top of page

No God but One: Allah or Jesus? [resensie]

  • Marius Nel
  • Mar 15, 2017
  • 2 min read

Nabeel Qurashi is verbonde aan Ravi Zacharias se organisasie wat binne die apologetiek werk om die evangelie aan skeptiese mense te verduidelik. Hy is ‘n mediese dokter wat drie meestersgrade in teologie behaal het en tans by Oxford-universiteit met sy doktorale studie besig is. Hy het ook die boek Seeking Allah, finding Jesus geskryf wat op die New York Times se topverkoperlys was.

In sy vorige boek vertel hy van sy dramatiese reis, hoe hy binne Islam grootgeword het en later krities daarna begin kyk het en uiteindelik besluit het om Christus te volg, ‘n besluit wat ook radikale gevolge vir hom ingehou het. Oor die dekade wat daarop gevolg het, het hy besef dat die verskille tussen Islam en die Christelike godsdiens baie meer diepliggend en omvangryk is as wat hy aanvanklik besef het.

En dit is die tema van dié boek: hy bied ‘n deeglike en sorgvuldige vergelyking van die bewyse vir Islam en die Christendom. Dit is juis hierdie bewyse wat tot sy besluit gelei het en uiteindelik sy lewe dramaties beïnvloed en getransformeer het.

Wat is die verskil tussen Islam en die Christendom? Aanbid hulle nie dieselfde God wat slegs op twee afsonderlike maar ewe geldige weë bereik kan word nie, deur Mohammed en Christus? Is die verskille tussen Islam en die Christendom werklik so belangrik dat die twee groepe nie kan versoen nie?

Is dit ‘n geval dat óf die Christendom se evangelie óf Islam se boodskap waar is? Dat die twee mekaar uitsluit? Vanuit persoonlike ervaring en ontdekking vertel Nabeel oor wat geloof beteken. Sy teologiese uitsprake word gekenmerk deur groot sensitiwiteit, eerlikheid en duidelikheid. En dit maak sy boek leesbaar vir alle mense. Dis nie ‘n teologiese verhandeling nie; dis eerder ‘n persoonlike belydenis van geloof.

Die boek antwoord twee vrae: is Islam en die Christendom werklik so verskillend en hoe kan ons weet watter godsdiens is waar. Hy baseer die Christendom se saak op die dood, opstanding en goddelikheid van Christus. As dit waar is, het ons alle rede om te erken dat die Christendom die enigste ware godsdiens is. Om oor die waarheid van Islam te beslis, kan jy slegs na die Koran gaan, om te bepaal of Mohammed ‘n boodskapper van die ware God is.

Die boek eindig met ‘n laaste persoonklike vraag: is dit die moeite werd vir jou om alles vir die waarheid op te offer? Fatima het alles verloor toe sy vir die waarheid opstaan, vertel Nabeel. Haar storie gryp aan die hart. Daarom kom Nabeel tot die gevolgtrekking: “There is no God but one, and He is Father, Spirit, and Son. There is no God but one, and He is Jesus”.


 
 
 

Comments


bottom of page