• deur Stephan Joubert

God is nie ’n helse probleem om uit te sorteer nie


(Hierdie artikel het ek op 25 Februarie vir die dagblad Beeld geskryf.)

Die lewe is so hard dat ons almal onsself nog hier gaan doodleef. Dit is aanvaarbaar as mens darem ’n vol lewe gehad het, maar wat gemaak as misdadigers jou strepie wreed probeer trek? Of daardie groot K-siekte? Dan bevind jy jouself op geloof-verloor se vlakte. So sê die skeptici.

Hoe gemaak met lyding? Moet ons in sulke tye God se se Naam probeer red wat blykbaar dan modder-bespat is? Nee, want ons is nie sy aardse regsverteenwoordigers nie. Daardie “get out of jail free” verklarings wat party mense namens Hom probeer uitdeel is onwettig! Ek bedoel daardie “toemaar, jy sal later verstaan” soort, of die goue oue: “Daar’s ’n doel met alles.” God is nie ’n raaisel om op te los nie. Of ’n hemelse probleemgeval wat ons gedurig moet verklaar nie.

Beteken dit ons mag nie vrae vra wanneer lyding ons naam en adres het nie? Nee, ons mag! Maar dan moet ons minstens begryp geloof is verhouding-aangedrewe. Dit is ’n verhouding met die lewende God, nie geïsoleerde oomblikke van beskerming, of insidentele ervarings van sy nabyheid nie. God is nie ‘n oupa in die hemel wat vir ons geskenke uitdeel en dan uit ons pad moet staan totdat ons Hom weer nodig kry nie.

Ook moet ons weet swaarkry en lyding is nie sulke groot geloofdiewe soos wat algemeen aanvaar word nie. Reeve Robert Brenner (The Faith and Doubt of Holocaust Survivors, 1980) het honderde mense ondervra wat die Tweede Wêreldoorlog se strafkampe oorleef het. Hy wou weet of hierdie skrikwekkende ervarings hulle geloof negatief geraak het. Bykans 50% van hierdie mense se geloof is hoegenaamd nie geskud nie. Een na die ander het hulle bely dat God nie die skuld kan kry hiervoor nie. “We owe God our lives for the few or the many years we live, and we have the duty to worship him,” merk een oorlewende op in ’n boek van Harold Kushner, “When Bad Things Happen to Good People” (1981). 11% mense het wel opgehou glo in sulke strafkampe, maar interessant genoeg het 5% mense daar tot geloof gekom.

Wanneer mense reg geleer word dat geloof nie ’n hemelse versekeringspolis wat hulle vrywaar van lyding, misdaad of siekte nie, leef hulle meer sinvol. Wanneer hulle begryp hulle dra eers ’n kruis, daarna ’n kroon, dan vind hulle selfs betekenis in lyding. Dan weet hulle God se afstand is nie afhanklik van hulle goeie of slegte omstandighede nie.

Lyding maak ons nie stom nie. In sulke tye stoei ons ook. Maar ons doen dit as kinders rondom God se tafel, nie as slawe in sy buitekamer nie. Ook in ons donkerste dae, wanneer die lig net deur die skrefies skyn, weet ons God kies om in in ’n verhouding met ons te leef wat nie deur lyding of die dood beëindig kan word nie.

Selfs al raak die verhouding met God papierdun aan ons kant van die draad, skei nie eens ons twyfel en worstelinge ons van Hom nie. Dit is hoekom Paul Althaus, ’n Duitse teoloog wat ook deur die hel van die Tweede Wêreldoorlog is, kon skryf: “Ek weet nie aldag of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo!” Of hoekom wat oudminister Pik Botha in sy gedig “Berusting” (Pik Botha en sy Tyd - Theresa Papenfus, 2011) kan skryf:

“So lank ons

ten spyte van die nyd

die droogte

en die stof

en die pyn

en die wanhoop

Kan bly glo

dat iewers agter die sterre

daar ’n God is

wat ons eenmaal

weer deel sal maak

van Sy vrede en Sy liefde

Dan was dit die moeite werd

Om te lewe en te sterwe”


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: