• deur Stephan Joubert

Nie Hemelse braaigereedskap nie


Een van die gebede in daardie Monty Python-reeks lui as volg: “Oh Lord please don’t burn us. Don’t kill or toast your flock. Don’t put us on the barbecue. Or simmer us in stock. Don’t bake or baste or boil us. Or stir us in a wok.” Miskien is hierdie kos-gedrewe gebed nie te ver van die werklikheid af nie. Wel, ten minste nie vir baie mense wat na jare se kerkwees steeds voel hulle skiet tekort nie. Hulle is altyd bewus hulle doen te min vir God. Hulle voel hulle stel Hom diep teleur. Ek het gedog ouer mense wat met sulke kwaai Godsbeelde grootgeword het, voel so. Maar toe ek met jong volwassenes en jeuggroepe in ’n paar gemeentes gepraat het, was ek verstom oor die wyd verspreide gevoel van “te min te laat” wat in gelowiges se harte heers. As ek vir jongmense vra hoekom voel hulle hulle maak dit nie in God se oë nie, is hulle antwoord min of meer dieselfde: “Ons voel ons steek sleg af teen gelowiges wat sulke groot dinge vir die Here doen. Ons is nog nie daar nie.” ’n Geestelike minderwaardigheidsgevoel teenoor God dus!

Goeie nuus direk uit die Bybel is dat God ons regtig nie wil of gaan gebruik om hemelse kos mee te maak nie. Hy braai, brand, kook, stoom of prut ons nie in sy hemelse kombuis omdat ons te lig bevind is nie. Die apostel Johannes skryf in 1 Johannes 3:1 dat die Vader juis sy groot liefde aan ons bewys het deur ons sy kinders te noem omdat Jesus ons Heer is. Hoor mooi, Hy noem ons nie sy braaigereedskap nie. Ons is geliefde kinders van God wanneer ons agter Jesus aan leef. Dis God se wil.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: