top of page

Geloof is nie massaproduksie nie

Stephan Joubert

Geen poging tot massaproduksie van geloof werk op die lange duur nie. Daar bestaan nie ‘n “one size fits all” geestelike resep waaraan ons almal voor die voet moet voldoen om die Here reg te dien nie. Ja, daar is wel een roeping wat vir ons almal geld, naamlik om die drie-enige Here van harte na te volg en lief te hê. O ja, en ook ons naaste soos onsself soos wat Jesus ons in Matteus 22 leer. Tog is nie een van ons fotostate van mekaar nie. Ons hoef nie soos mekaar te lyk, te klink of op te tree nie. Ons as Jesus se eietydse dissipels moet op unieke maniere Bybelgetrou en gehoorsaam aan Hom wees. Ons moet op verskillende maniere relevant wees tussen diegene waar ons daagliks leef met daardie paar talente en vaardighede wat God in ons lewe verpak het. Net een van ons elkeen het ooit die lewenslig gesien. Daar is nêrens op die planeet ‘n versteekte menslike kopie van onsself nie. Daarom dat ons die Here ook op unieke maniere moet dien. Anders is ons in elk geval maar net die tweede beste iemand anders soos wie ons dalk probeer wees.


bottom of page