• deur Alet Gardner

Ná die Feesgety: ‘n nuwe jaar vol Christmas cheer


Ná die oordaad en besig-wees van die Feesgety is ‘n gevoel van leegheid, van antiklimaks dikwels die nadraai. Dan is die versoeking groot om die leemtes in my lewe te vul met Nuwejaarsvoornemens of met winskopies op die talle Nuwejaarsuitverkopings. Teen Tweede Kersdag breek daar juis ‘n behoorlike uitverkoping-manie in die Westerse wêreld uit. By sommige winkels hier by ons in die VK staan mense ure voor openingstyd al tou om tog net van die winskopies te kan koop. So spandeer mense geld wat hulle nie eintlik het nie op goedere wat hulle nie eintlik nodig het nie – net omdat dit afgemerk is.

“Christmas cheer” is tog so belangrik vir die wêreld: ‘n geleentheid om as gesin en groter familie saam te kuier, ‘n geleentheid om uitgevat na die jaareindfunksie van jou maatskappy te gaan en bietjie te veel te drink, of om sommer net heeltemal te veel te drink. Laasgenoemde natuurlik veral wanneer mense die teleurstellings van die ou jaar probeer “verdrink” en dan die onbekende nuwe jaar inwaggel.

Of ons net ‘n gesellige of ‘n uitspattige fees vier, is dit dalk juis die geleentheid om deur Petrus herinner te word dat daar ‘n dieper vreugde is wat nie afhang van die geselskap, die plek waar ons kuier, of die hoeveelheid drank wat beskikbaar is nie. Dis die dieper, standhoudende blydskap van ‘n Geesvervulde (Geesbeheerde) kind van God.

In die nuwe jaar mag regerings of politici kom en gaan, en ekonomieë mag groei of krimp of selfs in duie stort. My persoonlike gesondheid of veiligheid en dié van my gesin is nie gewaarborg nie. In al hierdie omstandighede moet ek onthou waarvoor Kersfees eintlik staan (the reason for the season) en met die vrede en blydskap wat Hy gee, die nuwe jaar instap. Dan kan ek gesond eet, gereeld oefen, my geldsake verstandig hanteer – én die emosionele/geestelike energie hê om ander mee te dien en selfs in hulle fisiese behoeftes help voorsien.

Daar is soveel individue of selfs gesinne wat nie veel gehad het om mee fees te vier nie, wat besorg is oor finansiële verpligtinge in die jaar wat voorlê. Daar is mense wat afgesonder in ‘n kamertjie of woonstelletjie sit met min geleentheid om self ‘n bietjie bederf te word.

Dit was onlangs vir my en my buurvrou ‘n wonderlike ervaring om ons bejaarde vriendin in haar eenheid in die aftree-oord te gaan bederf. Ons het haar 90ste verjaardag gaan vier met high tea en Holy Communion. En Jesus was voelbaar by ons toe ons ‘n geïmproviseerde Nagmaal hou met komkommer toebroodjies en vonkelwyn. Ons vriendin het nog nooit so ‘n spesiale partytjie gehad nie!

Dit is goed om die tyd en emosionele energie daaraan te spandeer om voorraadopname te neem van my lewe, om ontslae te raak van die spinnerakke in my lewe. Maar in plaas daarvan dat ons dan bloot net skarrel na lewensruimte en jaag na lewensmiddele, kom ons wees draers van die ware Christmas cheer.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: