top of page

Jy is nie ‘n 2016-Kersfees-slagoffer nie

Stephan Joubert

Gelukkig hoef Christus se mense nie Kersfees aan die wêreld uit te verkoop nie. Gelukkig kan ons Kersfees reg vier en dit ook regtig vier! Want ons weet immers Jesus is die enigste Rede vir Kersfees. Of soos wat iemand dit mooi in Engels stel: “Jesus is the Reason for the Season!” Ons as gelowiges kan met nuwe oorgawe en met groot verwondering buig voor die Kind in die Krip, die Een wat nederig en stil na ons stukkende aarde toe gekom het. Sonder trompetgeskal het Jesus hier tussen ons gearriveer. Sy bed was ‘n eenvoudige houtbak waaruit die diere geëet het. Tog het hierdie einste Krip-Kindjie die wêreldgeskiedenis eiehandig herskryf. Hy het die bordjies permanent verhang. Nou het die skaal honderd persent in die rigting van God se genade geswaai. Jesus is God se lewende, onverdunde genade in aksie. Hy is die hemelse Bewys dat God die wêreld onvoorwaardelik liefhet. Kersfees gaan oor Hom. Dit vertel van ons vreugde omdat Jesus gekom het om die wêreld met hoop te vul. Sy aankoms en sy teenwoordigheid is die beste nuus ooit. Jesus is die hartklop van ’n geseënde 2016-Kersfees.


bottom of page