Hoe vertroos ek iemand wat ‘n groot krisis/trauma beleef?
- Alet Gardner
- Nov 2, 2016
- 2 min read

Toe ek baie jare gelede agtergekom het dat my huwelik in skerwe lê, het ek my goeie vriendin Mattie gebel met: “Bid asseblief saam met my – ek gaan dood!” Sy het dadelik gereageer met: “Ek kom nou oor na jou toe. Ons hoef nie eens te praat nie. Jy mag maar huil of praat soos nodig – ek luister.” Op die ou end het sy ‘n paar wyse woorde geuiter wat vir my goud werd was: “Onthou, jou man is op die oomblik so ver van God af dat hy nie mooi besef wat hy doen nie.” Ek sal nooit vergeet hoe baie haar ondersteuning in daardie donker ure vir my beteken het nie.
Daar is tye wanneer ons net saam met die persoon kan huil. Of ek saam huil of prakties help of net vir die persoon geleentheid gee om sy/haar hart uit te praat, die boodskap wat so iemand wil hoor, is: “Ek gee om. Hier is ek. Ek ondersteun jou.” As my vriendin iemand aan die dood moes afstaan en ek die persoon geken het, kan ek selfs mooi herinneringe met haar deel.
Dit help al klaar om te sê: “Ek het nie regtig begrip vir wat jy deurgaan nie, maar hier is ek – vertel vir my sodat ek kan verstaan.” Dikwels het die persoon net nodig om sy/haar emosies te verbaliseer en so die trauma te begin verwerk.
Nog ‘n manier waarop ek iets van God se liefdevolle Vaderhart kan tuisbring by my vriende wat ‘n krisis beleef, is om hulle te nooi vir ete as hulle nodig het om bietjie uit te kom. Ek onthou jare later hoe kosbaar dit vir my was dat my vriendin Annalie die aand voor ons verhuising Engeland toe, ‘n heerlike gekookte ete kom aflaai het – in mooi opdienbakke, mét eetgerei en mooi servette! Die boodskap was: “Ek weet julle gaan ‘n onseker tyd deur – en ek gee om!”
Op die dag van my ma se begrafnis, weer, het vriendinne ons oorlaai met eetgoed, wat baie gehelp het in ‘n tyd wat ek nie eens aan kos kon dink nie – maar hulle omgee vir ons basiese behoeftes was baie, baie kosbaar. En wanneer ek die een is wat by die voordeur opdaag met ‘n bak bobotie en vars broodjies, gee dit my geleentheid om sommer net vir my vriendin ‘n drukkie te gee en selfs woordeloos saam met haar te huil.
Nog ‘n manier waarop ek aan my hartseer vriendin/vriend se basiese behoeftes kan help voorsien, is om hulle inkopielysie te neem en te gaan kruideniersware koop, om dalk hulle jong kinders op ‘n uitstappie te neem dat die ouers net ‘n bietjie privaatheid het om te huil en weer tot verhaal kan kom. Hier in Londen, weer, het van ons vriende ‘n vriendepaar wat dringend Suid-Afrika toe moes gaan om ‘n sterwende ouer te groet, ondersteun met geld vir vliegtuigkaartjies.
Putting flesh on the promise of God’s steadfast faithfulness depends on getting to the front porch. Picking up the phone. Writing a real, old-fashioned letter. Whispering a gentle acknowledgement at work.
I think it’s safe to say that those who are suffering aren’t expecting you to deliver eloquent words. But they are hoping that you show up.
- Margot Starbuck in Today’s Christian Woman
Comentarios