top of page

Vasbyt Pelgrim-vriendin!

  • Milanie Vosloo
  • Sep 23, 2016
  • 1 min read

Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle lewe elke dag aan Hom moet oorgee. Romeine 12:2

Geloof is ‘n reis. Alhoewel níks ons kindskap kan wegneem nie, en ons die wonderlike voorreg het om saam met God te leef, weet ons ook dat ons eers eendag – wanneer ons hierdie wêreld verlaat – 100% tuis sal kom. Daardie veilige domein bereik ons eers volkome die dag as Hy ons kom haal. En omdat ons op reis is na die volmaakte more bestaan daar altyd ‘n moontlikheid dat ons iewers langs die pad kan verdwaal ... ver van Hom af kan raak ... selfs tussen die varke beland. Want hierdie reis is besaai met soveel dinge wat ons bitter graag van koers af wil bring.

Juis daarom is geloof ‘n voortdurende afhanklikheidsreis. ‘n Pad waarop ons elke nuwe oggend van voor af moet pleit vir nuwe genade. Die regte rigting. Beskerming. En liefde. Wanneer ons dit doen, gee die Gees graag al hierdie dinge aan ons ... elke oomblik van elke dag.

Mag jy elke dag van jou Pelgrim-pad na die ewigheid begelei word deur die Gees wat jou tree vir tree lei en jou heeltyd met sy tere liefde toevou.

Here, ek het U so bitter nodig. Vir vandag. Vir elke dag van my lewensreis.


 
 
 

Comments


bottom of page