Die regte temperatuur vir Jesus is…
- Stephan Joubert
- Sep 19, 2016
- 1 min read

‘n Termometer meet temperatuur. ‘n Termostaat verstel die temperatuur. Termostate bepaal ‘n vertrek se hitte terwyl termometers dit net reflekteer. Dalk is dit hoekom effektiewe navolgers van Jesus by wyse van spreke soos termometers en termostate funksioneer Hulle voel instinktief aan wat die optimale temperatuur is waarvolgens mense tot eer van die Here moet leef in elke situasie. Dan help hulle mense om daardie temperatuur te bereik. Die Here se soort navolgers weet lou is nooit die regte leef-temperatuur nie. Koud nog minder. Warm is optimaal. Gelowiges moet aan die brand wees, soos daardie twee mense van die dorpie Emmaus saam met wie Jesus gestap het net na sy opstanding uit die dood in Lukas 24. Toe Jesus later uit hulle midde verdwyn, het hulle vir mekaar vertel dat hulle harte aan die band geslaan het toe Hy met hulle uit die Skrif gepraat het. Geen wonder nie dat hulle warm harte hulle geïnspireer het om dadelik terug te jaag Jerusalem toe om te gaan getuig dat Jesus opgestaan het en dat Hy leef. Effektiewe gelowiges wat vandag nog saam met Jesus stap, het ook sulke warm harte. Hulle verstel voortdurend die temperatuur in en rondom hulleself vanaf koud tot die regte soort warm. Hulle weet Jesus kan lou nie uitstaan nie, soos wat Hy vir die gemeente van Laodisea gesê het in Openbaring 3. Lou maak Hom naar. Met koue harte kan Jesus iets doen - Hy kan sulke harte aan die brand steek soos wat die Emmaus-mense beleef het. Loop saam met Jesus, dan bring Hy jou vinnig by die regte temperatuur.
Comments