
Met die Olimpiese Spele in volle swang, het ons al 'n hele paar ure voor die TV deurgebring. Ek verwonder my aan die sportsterre, wat aan die individuele sportsoorte deelneem, se ongelooflike talent. Ek is egter nou eenmaal egter 'n spansport mens en geniet dit so om te sien hoe spanne saamwerk en mekaar aanmoedig om sukses te behaal.
'n Huwelik word sommer beter ,die oomblik wat 'n mens besluit dat jy en jou eggenoot 'n span is en nie opponente nie. In Prediker 4:9 lees ons: "Twee vaar beter as een, saam bereik hulle meer."
Opponente probeer mekaar uitoorlê, Hulle gun mekaar niks en sal alles in hul vermoë doen om hulle teenstanders te laat sleg lyk. Daar moet een wenner wees. 'n Huwelik wat 'n enkelspel is, klink na n wenresep vir 'n ramp. Ongelukkig is daar vele huwelike waar huweliksmaats op hulleself ingestel is en waar daar altyd 'n wenner moet wees... Ek maak die besluite. Ek moet elke argument wen. My woord is wet...
Waarom is dit beter dat huweliksmaats ook spanmaats moet wees?
* In spansport is daar nie plek vir groot ego's nie. Dis die span wat saak maak, nie die individuele sterre nie. Net so is daar twee mense wat ewe belangrik is in 'n huwelik.
* Mense wat deel is van 'n span weet dat saamwerk baie belangrik is. Almal moet hul bes lewer. 'n Span wat presteer kan nie 'n swak skakel bekostig nie. Die beginsel van ook jou heel beste gee vir jou huwelik, dra baie by tot 'n suksesvolle huwelik.
* 'Spanlede moedig mekaar aan. As een moeg word en wil uitsak, sal die spanlede hom of haar aanmoedig. Dink maar aan 'n man wat dalk 'n krisis by sy werk het en sy vrou wat hom aand vir aand moed inpraat.
* Spanlede raak opreg opgewonde as een van hul spanmaats goed vaar. In n huwelik is dit belangrik om jou vrou of man te prys en komplimenteer as hulle goed doen.
* 'n Spanpraatjie is onontbeerlik by spansporte vir motivering en om struwelinge te bespreek. Net so is dit belangrik dat huweliksmaats ook "spanpraatjies" hou. Wanneer daar verskille is en ook probleme in die gesin. Goeie kommunikasie is baie belangrik.
Ten slotte: Soos die Leeus rugbyspan en Fidji se sewes rugbyspan, bid suksesvolle spanne gereeld saam. Ook iets wat jy in jou huwelik kan onthou!