top of page

The KJV Prophecy Bible [resensie]

  • Marius Nel
  • Aug 19, 2016
  • 2 min read

The KJV Prophecy Bible. Barbour Bible. 2016

Die King James Version-weergawe van die Bybel is steeds die besverkoper onder Engelse Bybels wêreldwyd. En nou bied CUM hierdie weergawe van die KJV aan Suid-Afrikaanse gelowiges.

Die Prophecy Bible bevat die volledige teks van die KJV maar met die addisionele kenmerk dat dit alle profetiese tekste in die Bybel duidelik merk (highlight) en vir hierdie Skrifgedeeltes studienotas en artikels aanbied wat jou help om die tekste te verstaan. Profetiese gedeeltes wat geïdentifiseer is, sluit historiese profesieë in wat reeds vervul is, Messiaanse profesieë wat in Jesus vervul is asook profesieë wat met die eindtyd te doen het en wag om vervul te word.

Artikels in die Studiebybel kom van die pen van internasionaal bekende skrywers soos J.I. Packer, Josh McDowell, Kay Arthur, Tony Evans, Ray Stedman en ander. Dit beteken dat die kwaliteit van die werk gewaarborg is en dat die leerstellige korrektheid daarvan aanvaar sal word deur meeste Suid-Afrikaanse gelowiges.

So is daar artikels wat handel oor die betekenis van Bybelse verbonde, die rol wat Bybelse profesie onder kontemporêre Jode vervul, wat die verband tussen eindtydprofesieë en die Bybelse verbonde is, hoe gelowiges in die Ou Testament gered is, wat besnydenis van die hart beteken, wie Melgisedek was, en vele meer, en dan slegs in die eerste paar hoofstukke van Genesis.

Christus se woorde kom ook in rooi gedruk in die teks voor. En dan bevat die Bybel ook studiehulp in die vorm van tydlyne, kaarte, kruisverwysings van temas en woordelyste.

Die tyd is verby dat ‘n mens slegs aangewese is op die teks van die Bybel. Vandag is daar uitstekende hulp wat in die Bybel aan gelowiges verskaf word. En hierdie Bybel is ‘n goeie toevoeging tot die rak met Studiebybels wat veral van belang gaan wees vir die mens wat in Bybelse profesie belang stel.


 
 
 

Comments


bottom of page