top of page

Jy’t nie groot geloof nodig nie

deur Milanie Vosloo

Nee, al wat saak maak, is dat God met jou tevrede is. Sy goedkeuring is al waarvoor jy moet leef. 1 Korintiërs 10:18

Het jy ook al jouself met andere gelowiges en Bybelfigure vergelyk en dan gedink dat jy nou nie eintlik een van die groot gelowiges van die lewe is nie. Jy twyfel soms, het dalk dikwels nie so ’n toegewyde gebedslewe as wat jy dink jy moet hê nie en sal nou nie jouself as ’n geloofsikoon bestempel nie. Miskien moet jy dan weer die woorde van Jesus aan sy volgelinge hoor wanneer Hy sê dat ons met ’n klein bietjie geloof groot dinge kan doen en dat Hy met mosterdsaadjie geloof gróót bome kan maak.

Liewe medegelowige, die goeie nuus is dat ons Vader nie volmaakte mense verwag nie. Hy verwag net gewillige mense wat vir Hom lief is. Hy vra maar net dat ons tot Hom sal nader mét ons klein geloof, mét ons onsekerheid, vrae, foute .. ja, dat ons ons harte na Hom sal draai ten spyte van ons gebrokenheid. Want so lank as wat jy onopgeloste probleme, twyfelvrae, sondestryd, onvervulde behoeftes en … ’n verlange na God het, kan Hy jou bly verander om meer en meer soos Hy te word.

God het jou lief net soos jy is! Maar Hy het jou te lief om te los soos jy is! Maak jy maar net jou hart vir Hom oop. Hy maak van oophartmense geloof-ghoeroes. Van gewone mense maak Hy sy beelddraers.

Here, hou aan om my te groei asseblief.


bottom of page