Sondag toe en nou!
- Ashe Steenbok
- May 10, 2016
- 2 min read

Pietie soek my al lank al. Sommer daar na kerk in die pastorie se erf sê hy my sleg en ek stamp hom. Dis toe wat my ma ons sien. Net daar gaan my Sondag en my belangrikste afspraak vir die maand. Ek praat van ons maandelikse Tolkap-byeenkoms. Almal in die straat was gewoonlik daar en toeskouers het van orals gekom. Ek het juis vroeër nog ‘n houttol gekoop by die winkel op die hoek. Ek was reg!!
Toe pa na die kerk by die huis kom, was die duiwel los. Pa het altyd ‘n rukkie na die tyd by die huis gekom. Ek het nooit verstaan die dag toe ek self ook dominee geword het hoekom word daar ‘n diensie gehou in die konsistorie voor die erediens en na die erediens nog een in die konsistorie om die eintlike erediens af te sluit? Dit was iets soos kerk hou voor kerk hou en kerk hou na kerk!
In elk geval; toe pa hoor ek het baklei met Pietie, was tolkap daardie middag uit! Hy skreeu toe op my dat ek nie die Sabbatdag heilig nie. Daardie Sondagmiddag moes ek dus deur die venster kyk hoe meer as 30 kinders tolkap. Ek het gehuil.
Net die Sondag daarna preek my pa oor die Sabbatdag. Dit was gelukkig nie meer oor my nie. Nee, daar het glo mense gaan tennis speel oorkant op die sportveld.
Vandag as ek partykeer baie besig is deur die week, dan wil ek my motor was sommer op die Sondagaand. (Dis darem beter as ’n Sondagmiddag!) Vir ‘n oomblik voel ek sleg, maar dan sien hoe mense deur die straat draf en fietsry en dan ek regverdig dan my kinderdae se “sonde.” Vandag weet eek egter ek’s lief vir die Here met my hele hart, hele siel en my hele verstand. Ek weet dat wat ek doen op ‘n Sondag is nie bepalend vir my verhouding met die Here nie, maar ek weet ook hoe belangrik kerk toe gaan is (Hebreërs 10:25).
Vandag leer ek my eie kinders om respek te hê vir ‘n Sondag…nie om te baklei met Pietie en kie nie. Nie om te baklei met wasgoed en skottelgoed en bier nie…dis darem ‘n heilig-opstandingsdag. Dis die eendag wat God ons gegun het om te “check” of ons nog op die regte pad is!
Comments