top of page

Die Here is my Herder ek kom niks kort nie – is dit waar ook vir my emosies?

Elmarie van der Westhuizen

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie” Psalm 23

As ek sê die Here is vir my genoeg, hoekom ooreet ek my dan uit frustrasie? Hoekom moet ek eers ‘n paar glase wyn drink voordat ek kan ontspan of moet ek klomp geld uitgee op inkopies om die leemte in my hart te vul? Ons almal ken die verskil tussen ‘n koppie tee en ‘n paar koekies rustig geniet en om uit frustrasie DIE HEEELE pak koekies op te eet.

Ek mag dink ek is ‘n volwasse Christen wat lief is vir die Here, en gereeld kerk toe gaan, maar sukkel tog hiermee. Wanneer ek my frustrasie probeer verlig deur op ‘n inkopietog te gaan, of ‘n hele pak koekies op te eet, of glase wyn te drink om beter te voel en om van my spanning ontslae te raak, bring dit net tydelike verligting.

Die emosie onderliggend aan die ooreet/te veel drink moet herken en erken word, anders kan genesing nie plaasvind nie. Is dit frustrasie, woede, hartseer, teleurstelling? Wanneer ek mooi gaan kyk wat my so onrustig en omgekrap maak, mag ek vind dat ek besig is om te fokus op dit wat ek as die probleem sien, eerder as op my sondige selfbeskerming. Dit is nogal ‘n troos om te besef dat Christus reeds hiervan weet, dat ek dit net teenoor Hom hoef te erken (bely) en dan op Hom kan staatmaak om my te wys hoe om die probleem op ‘n meer konstruktiewe manier te hanteer.

Wanneer ek wêreldse maniere aanwend om van my frustrasies ontslae te raak, bring dit net tydelike verligting en sit ek met ‘n probleem wat, soos ‘n mallemeule, net al in die rondte gaan. Dan leef ek met ongehanteerde, opgekropte emosies en is daar nie vir my die volheid van lewe wat Christus graag vir my wil hê nie.(John 10:10)

Ek moet hierdie onderliggende frustrasie/spanning erken en na die Here toe gaan daarmee, Hom vra om my daarmee te help. Daarna kan ek positiewe maniere kry om hierdie emosies te hanteer. As ek nie eers my emosies onder beheer gebring het van die Heilige Gees nie, gaan dit my bly pla en ek daarmee bly sukkel … en mag selfs berading net tydelike verligting bring.

Ek voel dalk dis nie belangrik/heilig genoeg om dit na Christus te bring nie. Maar ek moet daagliks en van oomblik tot oomblik kies om my hele lewe onder beheer van die Heilige Gees stel – ook hoe ek my emosies hanteer. Wanneer ek egter nie eerste op Jesus staatmaak vir die vervulling van my behoeftes nie, is Hy nie meer my alles nie – kan ek nie sê ek kom niks kort nie. Want wat ek kortkom gaan ek met koekies en wyn en inkopies en wat ookal probeer vul.

“Christian maturity is when my behavior is affected more by God's will than how I feel”

Brian Moss


bottom of page