
Dis na kerk en my dominee-pa is baie kwaad langs die etenstafel. Ek wonder of dit weer die kerkraad is? Ons hoor gedurig hoe daar baklei word in kerkraadsvergaderings. Verlede Sondag was dit my oudste broer se beurt vir vernedering; hierdie Sondag lyk dit my is dit beurt. (Ek onthou nie veel nie; ek was toe maar 8 jaar oud.)
Volgens my Sondagskool juffrou het ek baie slaperig gelyk in die Sondagskool. So vertel my pa. Ek wonder toe by myself, wou sy vir dominee beïndruk en met hom ‘n geselsie aanknoop en toe skinder oor my? Ons almal maak partykeer so, ons knoop met ‘n baas ‘n praatjie aan sodat hy of sy kan besef ons is hier en dat die maatskappy nie eintlik sonder ons kan aangaan nie.
Daardie dag was dit vir my ‘n onsmaaklike Sondagete. Ek moes hoor dat ek te laat gaan slaap, en dat ons MNet (daardie tyd: R30 pm) gaan afgesny word sodat ek nie weer laat in die bed kom op Saterdagaande nie. Pleks dat ons Sondagskoolonderwyseres my vertel het hoe God my lief het, het sy my daardie dag ’n eerste les in “Pastorie-verantwoordelikheid” geleer. Wie sou kon dink dat Pastorie-kinders soos ekke die verantwoordelikheid het om ons pappie-dominee goed te laat lyk? Of om die kritiek op hom minder te maak (want ons almal weet mos dat dominees altyd ‘n teiken is). Pastorie-kinders moet die “straight-and-narrow” volg eintlik net om hulle ouers wat pastore en dominees is goed te laat lyk. Wat ’n les vir ’n 8 jarige outjie soos ekke! Maar nou ja, wat weet kinders tog nou van kerkraad-pressure? Of van 1 Timoteus 3:4, wat blykbaar beteken dat as die dominee se kinders nie op die regte pad is nie, hy nie langer ’n dominee kan wees nie?
Watter huisgesin se skottelgoed is ooit silwerskoon? Ek wonder steeds, liewe sondagskool juffrou? Sal ek dalk ook eendag met my baas ‘n geselsie moet aanknoop net om gesig te koop? Seker maar, want almal doen dit tog. Wat ek wel daardie dag aan die etenstafel geweet het as ‘n pastoriekind, is dat ek ‘n baas sal hê, want beslis gaan ek nie ‘n dominee word soos my pa nie! Nee hel!