
“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” (Ps 46:11 AFR83)
In sy boek, Survive the Savage Sea, vertel Dougal Robertson hoe hy en sy gesin as drenkelinge op see oorleef het.
In 1971 besluit hulle om hul plaas in Engeland en alles, wat hulle gehad het, te verkoop, 'n seilboot te koop en om die wêreld te vaar. Na meer as 'n jaar op see tref onheil hulle – moordwalvisse val die seilskip aan en binne minute sink dit. Dougal Robertson en sy gesin was nou myle van enige skeepsroetes af, hul gesin verdeel op 'n opblaasbare rubbervlot en ‘n veselglasbootjie.
Skielik was hulle 'n klein spikkeltjie in ‘n groot oseaan, omring deur baie water. Hul enigste kans was redding deur verbygaande bote. Sewentien dae later het die vlot afgeblaas en al wat hulle nou gehad het, was die smal veselglasbootjie, die rand daarvan skaars bokant die water weens die swaar menslike vrag daarin.
Hulle moes nou veg teen storms, walvisse wat hulle bedreig, dors, honger en uitputting. Hulle liggame was deur soutwatersere oortrek, maar hulle het oorleef van reënwater, vlieënde visse en skilpadvleis. Enorme skepe het binne sig verbygegaan, maar hul hulpkrete nie gehoor nie. Teen alle hoop in het hulle op elke denkbare manier probeer om te oorleef.
Na 37 dae op see het 'n Japannese vissersboot hul noodfakkel raakgesien en tot hul redding gekom. Hulle het oorleef!
Daar is tye wat God ontoeganklik voel, wanneer ons voel ons is in dieselfde situasie as die Robertsons – drenkelinge op see, uitgelewer aan die storms, sonder hoop en sonder uitkoms. Wanneer ons omstandighede onhanteerbaar voel, ons probleme te veel om die hoof te bied. Dan beperk ons ons verwagtinge van God en wat Hy kan doen. Dan begin ons twyfel aan Sy goedheid en getrouheid.
Anders as die Robertsons, wat nie Christene was nie, het ons ‘n Hemelse Vader om aan vas te hou, ‘n Hemelse Vader, wat ons deur hierdie storms sal dra. Soos vir die dissipels in die storm op die see van Galilea, sê Jesus ook vir my en jou: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.” (Mattheus 14:22, Die Boodskap).
In watter storms jy jou ookal bevind, God sal jou daardeur dra - jy kan op Sy liefde en teenwoordigheid staatmaak. Hy is jou hoop, Hy sal jou versterk, jou nuwe krag gee en enduit by jou wees. Hou vas aan Sy woorde: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas. Met my eie hand red Ek jou.” (Jesaja 41:10 AFR83)
Moenie langer talm nie - gee al jou probleme vir Hom, vertrou op Hom, dié God wie se getrouheid nooit opraak nie, dié God wat kan sê: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” (Genesis 18:14 AFR83).
Comments