Vier lewensbelangrike boustene vir gebed
- Stephan Joubert
- Oct 13
- 2 min read
Die Ons Vader-gebed leer my:
Gebed gaan heel eerste oor God. Gebed gaan oor aanbidding en lof. Altyd en in alle omstandighede gaan gebed oor die Here en oor wie Hy is. Gebed is om voor die Here te buig. Sy Naam is heilig. Sy wil geskied in die hemel. Sy koninkryk is ook gevestig in die hemel en dit breek orals in ons midde deur. Om dit te weet, maak ons klein genoeg om God se grootheid en almag raak te sien. Sulke gebede laat ons ons stemme voeg by dié van die hemelse lofkore wat vreugdevol uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here.”
Daaglikse behoeftes, die regte soort. Wanneer ons vir onsself en ander mense bid, vra ons vir God om in ons almal se lewensbehoeftes te voorsien. Ons bid vir genoeg vir vandag. Ons weet nie regtig wat genoeg is nie, maar God weet. Ons vertrou Hom met die regte porsie brood vir vandag. Ons bid dieselfde vir almal rondom ons. Ook vertrou ons die Here om hierin te voorsien, soos wat Hy graag doen.
Vergifnis. Gebed is die diepste uitdrukking van ons verhouding met God. Wanneer ons soms ongehoorsaam aan Hom is, is gebed ook die plek waar ons dit opreg bely. Ons lê ons oortredings berouvol aan Sy voete neer en ons hou op om dit te doen. Die Here het ons in Christus vergeef, maar ons weet Hy is ook ons Helper terwyl ons ons sondes voor Sy genadetroon neerlê. Gedurig vra ons ook dat Hy ons sal help om met harte vol vergifnis teenoor ander mense rondom ons te leef. Liefdeloosheid mag nooit ’n vastrapplek in ons hart kry nie.
Versoeking. Die Bose is ’n werklikheid; daarom smeek ons gedurig vir God om ons weg te hou van verkeerde gedagtes en verkeerde gedrag. Ons vra dat die Here sal sorg dat onsself en versoekings nooit op dieselfde tyd op dieselfde plek uithang nie. Ons opregte gebede beveilig ons teen sulke nimmereindigende versoekings wat daagliks ons lewenspad kruis. Dit maak ons vry om vir Christus te leef wanneer ons amen sê.




Comments