top of page

Ons gebede sneuwel nie teen ‘n dooie muur nie

  • Stephan Joubert
  • Oct 6
  • 1 min read

Wanneer die soeklig op ons persoonlike gebedslewe val, is ons gewoonlik in die moeilikheid. Gedurig hoor ons ons moet meer bid. Ons hoor ook die getuienisse van ’n paar supergelowiges wat steeds die hemele oopbid, maar aan ons kant van die draad is gebed eintlik net ’n gesukkel. 


Ons bid hier en daar en doer, maar dit voel kragteloos. Ons kan identifiseer met ‘n bekende persoon wat op ’n dag by die klaagmuur in Jerusalem gaan bid het, waar derduisende Joode gereeld bid. Toe hulle vir hierdie celebrity vra hoe dit gevoel het om op so ‘n heilige plek te bid, antwoord hy: “Well, it was like talking to a wall…”  


Ons bid nie teen mure vas nie. Ons bid soos Jesus ons geleer het. Ons weet om te bid is om met God te praat. Hy is die Hoorder van gebed, soos wat Psalm 65 sê. Hoor weer: God ÍS die hoorder van gebed. Hy is nie doof nie. Hy is nie weg nie. Hy hoor. Ons praat met Hom in Jesus se Naam. Ons loof Hom. Ons sê vir Hom dankie. Ons praat mooi en vreugdevol oor God by God. Ons maak ook ons behoeftes in nederigheid aan Hom bekend. En ons bid gedurig vir ander mense. Altyd bid ons gelowig en opreg. Dan sê ons amen en gaan leef tot eer van die Heer. Hy het ons gebed gehoor. Hy is by ons. Ons opregte gebede sneuwel nooit teen dooie mure nie.

Comments


bottom of page