Moenie aan “hubris” ly nie
- Stephan Joubert
- Sep 15
- 1 min read
Hubris is ’n bekende woord in die ou Griekse kultuur. In Handelinge 27 en 2 Korintiërs 12 verwys dit na beledigings, skade en slegte behandeling vanaf ander. In die werke van die groot Griekse denker, Aristoteles, verwys hubris na die arrogante ingesteldheid en optrede van indiwidue wat veroorsaak dat hulle dink hulle is beter as ander.
Mense wat vol hubris is, behandel ander met minagting. Omdat hulle geen respek het vir enigiemand nie, beledig en verkleineer hulle ander mense met wie hulle te doen kry. Moenie dat so-iets jou ooit oorkom nie.
Moenie neerkyk op ander nie. Moenie mense met jou woorde of gedrag seermaak nie. Dit is verkeerd. Dit hoort nie by die Here se mense nie. Kry alle vorms van hubris uit jou gestel deur saam met Paulus in Filippense 2 te leer om na ander rondom jou op te kyk. Dan dink en doen en leef jy soos Jesus. Dan het jy “the mindset of Christ,” soos wat een Engelse vertaling die woorde van Filippense 2:5 weergee.




Comments