Mense se reaksies is nie ons saak nie
- Stephan Joubert
- 15 minutes ago
- 1 min read
“People will always remember how you made them feel …” Hierdie is ‘n gewilde sê-ding op sosiale media. Elke keer wanneer ek dit raaklees, wonder ek hieroor. Dalk gebeur dit omdat sulke idees nooit voorop in my eie kop is nie. Ek probeer nie om mense se herinneringe te bestuur nie. Ek probeer nie doelbewus om hulle gevoelens teenoor my te beïnvloed nie. Om dit te doen, sou vir my op manipulerende gedrag neerkom.
Dalk probeer jy ook nie om mense se reaksies op jou woorde en dade te bestuur nie. Maar dit beteken nie dat jy en ek onsensitief vir ander se opinies mag wees nie. Ook mag ons nie traak-my-nie-agtig teenoor hulle optree nie. Dis ongesond om te leef met ’n ingesteldheid van “ek gee nie om wat ander mense van my dink nie”.
God se Woord vra van ons om ander mense lief te hê soos onsself. Dit is iets totaal anders as om ander se reaksies te bestuur, of om glad nie om te gee wat hulle dink nie. Ons moet juis omgee, luister, dien, help, uitreik, bid, hoor, laste dra en daar wees. Ons moet naasteliefde konkreet uitleef. Maar ons moenie elke aand wakker lê en tob oor hoe ons almal deur die loop van die dag laat voel het nie. Dan gaan ons geen tyd oorhê om net onsself te wees nie. Dit is eerlikwaar goed genoeg om mense lief te hê, soos wat God van ons vra. Hoe hulle hierop reageer, is nie regtig ons saak nie.




Comments