
‘n Vriendin vertel hoe sy onlangs in ‘n kuier saam met ander vriendinne baie ongemaklik gevoel het, toe haar siening oor die Covid-vaksiene aangeval is. Die groep vriendinne was baie uitgesproke dat hulle die waarheid beet het en was glad nie oop vir enige insette van haar kant af nie. Sy erken dat sy afgejak en verneder gevoel het.
Ons almal het sterk en uiteenlopende standpunte oor o.a die vaksiene, plaaslike en werêldleiers en onlangs hier in die VK oor Brexit. Ook in die vroeë kerk was daar sterk standpunte, wat mense in twee kampe verdeel het. Paulus skryf in sy brief aan die Filippense dat twee staatmakervroue, Euodia en Sintiche, asb. hul meningsverskil moet oplos. Ook Paulus en Barnabas het sterk van mening verskil oor wie hul op hul sendingreis moet vergesel.
Natuurlik sal ons passievol oor ons standpunte wees – ons is tog almal verskillend. Ons gaan nie almal saamstem nie, so hoe hanteer ons dit? Dit is ‘n uitdaging om ander, wie se standpunte hemelsbreed van myne verskil, met die regte gesindheid te behandel. Die versoeking is groot om neer te sien op hulle en op te tree asof my standpunt die enigste bestaansreg het. Ek sien maklik die ander standpunte as “oningelig” en “swak gefundeer”.
As Christen volg ek tog in die voetspore van Jesus en behoort ek daarna te streef om alle mense met respek en liefde te behandel. Dit beteken nie noodwendig dat ek met hulle opinie saamstem nie, maar ek gee daarmee erkenning aan hulle reg op hul eie standpunt, hoe ver verwyder dit ookal van myne mag wees. Ons kan steeds in liefde van mekaar verskil.
Jesus leer ons: Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar lief hê; soos Ek julle lief het, net só moet julle mekaar ook lief hê. (Johannes 13:34 NLV). Dit geld juis waar ons van mekaar verskil. Hierdie liefde is nie selfsugtig nie en is geduldig, vol respek en vriendelik. Dis verdraagsaam en neem ander in ag. Dit is ook niebakleierig nie, maar inskiklik, altyd saggeaard teenoor almal. (Sien Titus 3:2)
Slegs wanneer ek daagliks in my stiltetyd versterk word en die Heilige Gees toelaat om my hierin te help, sal ek dit regkry. In plaas daarvan om dan kwaad te word, my standpunt passievol te verdedig of aanstoot te neem, kan ek doelbewus kies om met respek, liefde en geduld op te tree.
Our maturity will be judged by how well we are able to agree to disagree and yet continue to love one another, to care for one another and cherish one another and seek the greater good of the other. - Desmond Tutu
Comments