
Soos wat kleintjies maar maak, het ons jongste op ‘n dag met groot vrymoedigheid die gesprek tussen my en ‘n vriendin gemonopoliseer. Toe ek haar teregwys, was haar versoek: “Tannie Francis, sal jy asseblief volgende keer by my kom kuier? Dan kan ons twee gesels.”
Terwyl feitlik elke land in die wêreld in lockdown is a.g.v. Covid-19, en ons nou ons dae in afsondering en selfs algehele inperking moet slyt, kom ons agter hoe ongemaklik dit is om alleen te wees. Ons mag selfs vind dat ons naby ons huismense is en tog eensaam voel. Om so “ingehok” te wees lei baie maklik tot verveeldheid en geïrriteerdheid, om nie te praat van angstigheid oor die onseker situasie waarin ons verkeer nie. Dis nou wanneer ons met grasie, met genade en liefdevolle verdraagsaamheid moet kan kommunikeer.
Maar eerstens is dit meer as ooit belangrik om tyd deur te bring in kommunikasie met God. Dit beteken dat ek met hom sal praat, na sy sal stem luister – dis wanneer ek vir Hom geleentheid gee om sy sê te sê deur werklik biddend tyd in Bybelstudie te spandeer. Net soos wanneer ek met ‘n dierbare familielid of vriend gesels. Jesus het God die Vader meer toeganklik vir ons kom maak – vir ons iets kom wys van wie Hy is, vir ons kom lei in genade en waarheid en wysheid. Genadige, liefdevolle, opbouende woorde uit my mond gaan dan mos ‘n bewys wees van die werk van sy Gees in my lewe. Die Bybel leer tog vir ons dat ons woorde tot seën vir ander moet wees wanneer Paulus in Efesiërs 4:29b leer: “… praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.” (1983 Vertaling) Met ander woorde, is my woorde tot seën vir my hoorders? Is dit asof God self daardie persoon aangeraak het?
En wanneer ons konflik het, kom ons hanteer dit soos mense wat pas uit ‘n heerlike, liefdevolle gesprek met Jesus self gekom het – sonder binnegevegte. Die teenstander is mos nie hierdie mens voor my nie maar ons geestelike vyand, die duiwel, wat verwydering en vernietiging wil bring. Dis daarom veral in hierdie stresvolle stryd teen die Korona virus, ook ‘n onsigbare vyand, dat ek die Heilige Gees sal vra en vertrou om my gedagtes en woorde te beheer sodat ek genade kan betoon, ook in die antwoorde wat ek gee en die opmerkings wat ek maak.
Gebed:
Here, help my om vandag en elke dag naby U te bly, te wandel in ‘n deurlopende verhouding met U. Met U hulp kan ek uitreik na ander sodat hulle ook u liefdevolle aanraking kan ervaar.
Comments