top of page

Kies eenvoud in ‘n komplekse wêreld

  • Helena Smith
  • Oct 28
  • 2 min read

Jy kan kruideniersware aanlyn bestel en blitsvinnig kom lewer ‘n motorfiets dit voor jou voor jou deur af. Wegneemetes kan binne ‘n paar minute by jou afgelewer word.  Jy kan vermaak word deur ‘n verskeidenheid satellietkanale op TV. AI kan jou kind help om ‘n redenaarstoespraak voor te berei. Die verstommende nuutste tegnologie maak ons lewens regtig makliker.

 

Dit is egter ook so dat dít wat ons lewens vergemaklik, meer stres veroorsaak. Die wêreld is kompleks en gesofistikeerd. Om ons is daar ‘n gejaag en mense bly besig.   As gevolg van die welvaartskultuur van ons tyd, ly baie mense aan angs en brand uit. Alles moet vinniger, beter en op groter skaal gedoen word. Die meeste mense streef na ‘n hoër lewenstandaard. Ons werk harder, speel harder en bestee harder, maar aan die einde van die dag is ons armer van gees. ‘n Besige lewe vol van die nuutste hulpmiddele kan veroorsaak dat daar te veel afleiding is en dat ‘n mens nie fokus op dit wat regtig belangrik is nie. 

 

‘n Mens sou dom wees as jy nie die nuutste tegnologie benut nie. Geniet ook jou geld, maar moenie dat dit jou verswelg nie. Richard Foster gee in sy boek, ”Celebration of discipline”, raad om ‘n eenvoudiger lewenstyl te kweek. Hy beveel aan dat ‘n mens dinge moet aankoop omdat dit nuttig is en nie oor hul status nie. Foster sê ook dat ‘n mens nie aan goed verslaaf moet raak nie en dat jy die gewoonte moet aanleer om dinge weg te gee. 

 

In Handelinge lees ons van die eerste gemeente. Ons kan beslis by hulle leer van ‘n eenvoudige, maar vervulde lewenswyse. Handelinge 2:46: “Hulle het elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet”.

 

Ons kan van die lewenswaardes wat regtig tel, by die eerste gemeente leer. ‘n Minimalistiese en eenvoudige lewe begin deur God se Woord te gehoorsaam. Dit sluit tyd vir gesprekke met God en Bybel lees in, asook om saam met medegelowiges te eet en hulle te dien. Soos die lidmate van die eerste gemeente moet ons ook vrygewig en hulpvaardig wees.   

 

Miskien is dit vir ons nodig om terug te keer na die basics. Daar is mos nie verniet ‘n sêding “minder is meer” nie. Geniet die lewe, die skepping, jou familie en jou vriende, sonder om alles te wil besit. As dit voel asof die besige wêreld jou wil insluk, moenie saamhardloop nie. Kies stil oomblikke saam met God om jou te help om die chaos rondom jou te hanteer.


Koos du Plessis het geskryf: 

“Eenvoud is die vreugde van die lewe
dis gee en neem net wat daar is;
dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood
wat liefde is."

Comments


bottom of page