Jy is veel meer as miljoene atome wat na-doods hersirkuleer
- Stephan Joubert
- 3 hours ago
- 2 min read
In een novelle skep die skrywerakademikus, Alan Lightman, ’n godheid genaamd “Mr g”. As hierdie “godheid” ’n vrou sien sterf, weet hy die miljarde atome in haar liggaam gaan nadoods gehersirklueer word. Daardie 21% koolstofdioksied asook daardie 10,1% waterstof in haar liggaam gaan tydens haar verassing met ander gasse in die lug verbind. Ander elemente van haar liggaam gaan later deur plante opgeneem word, sommiges gaan in reënwater beland, en nog ander gaan in suurstof omskep word.
“Mr g” se mense verdamp sommer so… sonder enige nadoodse geheue. Al troos wat hulle hier en nou het, is dat hulle vooruit weet hulle is deel van die heelal se hersirkulasieproses. Wat ’n troostelose troos! Of is dit eerder hooploos?
Met die lees hiervan het ek opnuut besef dat mense desperaat op soek is na hoop. As hulle dit nie in die lewende God kan of wil vind nie, skep hulle sommer hulle eie wetenskaplike gode wat mense probeer troos. Deesdae meld KI-gode ook aan. Ja, jy het reg gelees: Daar is inderdaad al ’n paar gode op die digitale mark geskep om “lewe” en “koers” te gee en om aanbidding van hulleself te vereis.
Die goeie nuus van die Bybel is dat God nooit Sy handewerke laat verdamp nie. Alles behalwe. Nóg lewe nóg dood kan ons as gelowiges skei van die Here. Ons weet dat ons in lewe en in dood Christus S’n is. Ons glo Romeine 14:7-9 van harte. Hoor net: “(7) Nie een van ons leef vir onsself nie. Ook gaan nie een van ons dood vir onsself nie. (8) As ons leef, leef ons om die Here te eer. As ons doodgaan, gaan ons dood om die Here te eer. Dus: of ons lewe en of ons doodgaan, ons is die Here S’n. Ons behoort aan Hom. (9) Dit is tog ook hoekom Christus doodgegaan en weer begin leef het – sodat Hy as Here kan heers oor dooies en lewendiges.” (NNT Vertaling).
Comments