top of page

Is ek ‘n veilige plek vir ander?

  • Elmarie van der Westhuizen
  • Jul 16
  • 2 min read

Die Britse regering het gedurende die Tweede Wêreldoorlog die publiek aangeraai om ‘n veilige plek te skep, waar hulle tydens bomaanvalle kon skuil. Hulle kon óf in hulle tuin ‘n ondergrondse skuilplek van sinkplaat bou óf hulle kon ‘n spesifieke kamer in hul huise as 'n skuilplek gebruik. Dit is was dikwels in die kelder of trapkamer. Mense het in hierdie “veilige plekke” geskuil, wanneer daar bomaanvalle was.


Soos die Britse bevolking tydens die oorlog skuilplek gehad het, het ons ook sulke “veilige plekke” nodig - ‘n emosionele hawe, waar ons veilig is, beskerm teen die aanslae van die lewe. Daar kan ons tydens die storms van die lewe skuil. ‘n Plek waar ons die deur spreekwoordelik agter ons kan toemaak en die wêreld uitsluit. 


'n Veilige ruimte is van kardinale belang. Navorsing toon dat kinders, wat 'n veilige ruimte het, ‘n groter kans het om gesonde volwassenes te word. Kinders floreer as hulle ten minste een veilige volwassene in hul lewe gehad het. Volwassenes het ook 'n veilige ruimte nodig en ons ontgroei nooit daardie behoefte nie. 


Hoe kan ek ‘n veilige hawe vir ander wees? Ons almal het ‘n plek nodig, waar ons oor ons frustrasies en seerkry kan praat. ’n Plek, wat vry van oordeel is en waar ek ondersteunende liefde ervaar. Ek hoef nie volmaak en perfek te wees om ‘n veilige ruimte vir ander te wees nie. Ek kan maar net ‘n goeie luisteraar wees, sonder om te oordeel, ‘n plek waar mense net hulself kan wees. Ek kan ‘n veilige ruimte skep, waar almal openlik met my kan gesels, wetende dat ek dit nie gaan oorvertel  nie. Ek kan met hulle geheime, frustrasies of seer vertrou word. 


As volgeling van Jesus wil ek Hom vir ander wys in hoe ek optree. Ek wil die veiligheid, wat ek by Hom kry, vir ander moontlik maak. By Jesus word ek met onvoorwaardelike liefde en warmte ontvang. Hy nooi my uit om na Hom toe te kom en belowe my rus (Matt 11:28). Hy troos my en droog my trane af. Hy is nie oor my frustrasies en seer geskok nie. Hy lap nie my skandes aan ander uit nie. Ek kan gemaklik en broos wees, wetende dat ek aanvaar is en my sondes vergewe is. En ek gaan weg uit Sy teenwoordigheid met groter vrede en vreugde - my las is weer ligter.


God wil my gebruik om Sy liefde na ander te laat vloei, o.a. deur ‘n veilige ruimte vir ander te skep en so Sy liefde tasbaar te maak. So word ek een van die werkers in Sy Koninkryk hier op aarde.. Watter groot voorreg is dit nie!


“When we honestly ask ourselves which person in our lives means the most to us, we often find that it is those who, instead of giving advice, solutions, or cures, have chosen rather to share our pain and touch our wounds with a warm and tender hand.” - Henri Nouwen

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page