Heeltyd Feestyd
- Alet Gardner
- Jan 6, 2021
- 2 min read

Een van my groot hartsbegeertes is om ‘n mandjie vol piekniekgoed van die naaste Carluccio’s deli / restaurant te kry en ‘n lekker lang piekniek saam met dierbares te gaan hou. Dink net hoe lekker sal ons kan skerts en diep gesels en sommer net mekaar geniet en by mekaar se harte uitkom!
Daarom het dié boodskap vir my persoonlik baie beteken, toe Stephan Joubert ons onlangs tydens ‘n virtuele oggenddiens daaraan herinner dat Jesus nie met leë hande aan die deur van my hart kom klop nie (Openbaring 3:20). Hy kom met ‘n mandjie met die allerlekkerste feesgoed om saam met my te kuier. Dis mos wanneer ons saam ‘n maaltyd geniet dat ons werklik by iemand se hart uitkom, veral wanneer ons gasvrou / gasheer moeite gedoen het om geurige kos mooi voor te sit en ons lánk so om die tafel sit en kuier.
Wanneer ek nou in die Feestyd pakkies opmaak en spyskaarte beplan vir heerlike familiekuiers, maak die feit dat ek voorberei vir ‘n Christusfees saam met my dierbares nóg meer sin. Hierdie is nie sommer net ‘n gewone kuier nie, allermins ‘n “ooreet en te veel drink”-kuier.
Nou, in Covid-tyd heg ons hier in die VK nóg meer waarde aan die voorreg van so ‘n Feeskuier, wat lyk asof dit tussen grendeltyd 2 en grendeltyd 3 ingepas gaan word. Dit IS ‘n voorreg om saam met my dierbares te mag kuier.
Soveel te meer kan ek Jesus innooi in die klein detail van my alledaagse lewe. Of ek vir ‘n peutertjie ‘n slaaptydstorie lees, saam met ‘n tiener funky klere gaan koop of vir ‘n bejaarde ouer gaan kuier, kan ek ‘n fees daarvan maak deur die vreugde en vrede van Jesus se teenwoordigheid in ons saamwees in te bring. Net so gaan my gebede en veral my voorbeeld ‘n verskil maak in die lewe van ander, tuis of by die werk – moontlik tot in die volgende geslagte.
Christ, our most honoured and eagerly anticipated guest, desires to meet with us in a heart prepared for his arrival.
– Katherine Walden
Comentarios