God, ek het ’n guns dringend nodig
- Stephan Joubert
- Nov 3
- 1 min read
In 2023 het die Amerikaanse rapper, Jelly Roll, ’n groot treffer gehad met sy lied “Need a Favor.” Hy sing onder andere: “I only talk to God when I need a favor.” “Toe ek dit die eerste keer gehoor het, het ek by myself gedink dis presies wat baie mense met God doen. Maar toe luister ek verder. Toe hoor ek hoe hy sing dis eintlik arrogant om net met God te praat as jy ’n guns nodig het.
Padlangs eerlik sing Jelly Roll dat hy “Amazing Grace” ken en dat die King James Bybel stofbedek op sy bedkassie lê. Intussen drink hy te veel op Sondae terwyl hy eerder in die kerk moes wees. Dan eggo daardie aardskuddende woorde: “I only talk to God when I need a favor … But God I need a favor!”
Dalk begryp jy wat Jelly Roll bedoel. Dalk ken jy ook die roete van God in die steek laat en van jou eie lewe opmors. Dan moet jy Jesus se gelykenis in Lukas 18:9-14 gaan lees. Hier vertel Jesus van ‘n tollenaar wat homself in dieselfde bootjie bevind het, maar wat toe ’n genadeguns by God gaan bedel het.
“God wees my genadig.” Net dit! So bid die tollenaar. Toe ontferm God Hom oor hierdie man. Jesus vertel dat die tollenaar huis toe gegaan het as iemand wie se saak met God reggemaak is. Benodig jy ook so ’n guns benodig van God? Bid dit saam met die tollenaar van Lukas 18. Jou gebed sal verhoor word.




Comments