Enige plek is ’n lekker plek as ek ’n lekker mens is
- Stephan Joubert
- Aug 4
- 2 min read
Om in Suid-Afrika te leef, is meer as net ‘n uitdaging. Dit is ‘n roeping. Kom ons wees eerlik, dis makliker in baie ander lande as hier. Daar oorkant die waters is dit meestal veiliger, skoner, meer ordelik en meer voorspelbaar. Hoe sê die mense nou weer: “Alles werk daar!”
In Suid-Afrika moet jy elke dag kies om jou kop op te lig. Hier moet jy oor en oor besluit om vas te byt en om nie moedeloos te raak nie. Hier tussen hijackers, korrupte politici en uitbuiters wat gedurig die nuustoneel oorheers, moet jy van vroeg tot laat kies om ‘n najager van goeie nuus te wees. Hier kos dit ‘n tweede kyk om te sien hoeveel goedgesindheid en deernis daar steeds onder mense bestaan. En hoe mense mekaar dra en ondersteun. Hier vra dit ‘n dieper geloofskyk om te sien hoe die Here Sy kinders gebruik en hoe Hy op wonderbaarlike maniere vir hulle uitkoms gee.
Hier kos dit guts om te (oor)leef. Jy sal weet wat ek bedoel as jyself al misdadigers in die oë moes kyk. Of deur korruptes ingedoen is. Of jou werk verloor het. Hier is dit uitdagend. Terloops, daar oorkant die waters ook. As jy hierdie Goeie Nuus iewers in die buiteland lees, sal jy dit bevestig. Maar hier en daar is dit ook vreugdevol… as jy en ek geleer het om die Here se goedheid op nuwe maniere te soek en te beleef. Op die ou end setel die Here se vreugde in ons harte en nie in ons omstandighede nie. Daarom kan ons kies om met hoop in Sy teenwoordigheid te leef waar ons onsself ook al bevind.
Soos wat ek graag vir myself sê: Enige plek is ’n lekker plek as ek ’n lekker mens is.
Comments