top of page

Elke gebed is ‘n nuwe gebed

  • Stephan Joubert
  • 15 hours ago
  • 2 min read

As ons vir jare lank dieselfde roetines getrou navolg, gebeur dit later outomaties. Ons bestuur ons motor outomaties. Ons lees die Bybel outomaties. Ons sit outomaties op dieselfde plek in die kerk en in ons gunsteling eetplek. Ons praat outomaties oor dieselfde dinge en ons kyk outomaties na dieselfde programme op TV.


Dit is goed om goeie roetines en gewoontes in plek te hê, maar dit kan gevaarlik raak wanneer alles in ons lewe op autopilot gebeur. Die grootste gevaar van alles is egter wanneer ons gewoond raak aan die Here. Dan bid ons later onnadenkend sonder dat ons enige gunstige hemelse reaksie hierop verwag. 


Een van die gevare van ‘n geroetineerde gebedslewe is om vas te val in “gepaste gebede”, waar ons dieselfde woorde oor en oor herhaal voor elke ete en tydens elke gebedsgeleentheid. Ons is later so gewoond aan God se teenwoordigheid dat ons oorgemaklik met Hom praat. Ons bid so onnadenkend dat ons vyf minute later nie eens meer kan onthou wat ons gebid het nie. 


Ons mag nooit ons gesprekke met die lewende God afkoel tot ons eie gerieflike kamertemperatuur nie. Wanneer ons bid, is ons op heilige grond. Ons is op God se gebied. Ons nader opreg tot Hom in Jesus se Naam. Ons kies ons woorde versigtig (Prediker 5:1-2). Ons is nederig (Jakobus 4:7-8). 


Egte gebed is om elke keer van voor af met God te praat. Elke gebed is ’n splinternuwe gebed. Elke gebed begin van vooraf met die nodige respek, eerbied, aanbidding. Ons storm nooit onnadenkend by die hemelse deure in nie. Ons onderbreek nie almal daar met ons eie versoeke en gee dan haastig pad sonder om met die nodige nederigheid amen te sê nie. 


Ons bid nadenkend, versigtig, selfondersoekend. Ons praat altyd met die God van hemel en aarde. Daarom ken ons ons plek. Hy is ons Vader, maar Hy is in die hemel. Hy is naby, maar Hy is ook heilig. Ons bid elke keer van vooraf opreg en nadenkend.

Comments


bottom of page