Ek is nie ’n geestelike dreigement nie
- Stephan Joubert
- 21 hours ago
- 2 min read
“Dis tyd dat ons opstaan vir die Here,” sê ’n onbekende vir my.
“Ek het dit reeds vanoggend gedoen toe ek opgestaan het,” antwoord ek.
“Nee, ek bedoel ons moet begin uitstaan vir Hom,” reageer hy. “Dit het ek ook reeds begin doen toe ek opgestaan het. Ek is nie ’n wandelende geestelike dreigement nie,” antwoord ek toe.
Dreigendes sien altyd net die kerk se doodsheid raak. Oopoë kyk hulle God se groot werke mis. Hulle plaas hulle hoop op môre, wanneer die res blykbaar sal opstaan en iets begin doen vir God. Maar daardie toekoms word net nooit ’n realiteit in hulle nabyheid nie. Of in hulle leeftyd nie. Daarom hang hulle gefrustreerd rond by een of ander rooi geestelike verkeerslig wat net nooit wil groen slaan nie. Tussen sulke lewende dreigemente dink ek altyd aan Creedence Clearwater Revival se treffer van weleer: “Someday never comes”.
Hoor hier, vandag is al tyd wat jy het om op te staan vir die Here. Môre is nog ’n nagreis ver, maar vandag is die Here hier by jou in Sy volheid. Vandag reeds gebeur groot dinge, wanneer jy jou gebede met lof en dank volmaak. Vandag reeds gebeur God se wil wanneer jy aan ander mense goed doen, en wanneer jy vreugdevol oor Hom getuig. Vandag is jou groot dag om vir Christus te skyn. Doen dit, dan leef jy vandag ‘n lewe van oorvloed in die Here. Dan is jy nooit vasgekeer in daardie geestelike verkeersknoop, waar dreigendes lewenslank wag op ’n groen verkeerslig nie. Dit het lankal groen geslaan by die kruis. Jou pad is oop. Vandag is hier, die Here se vandag!




Comments