top of page

Ek het niks om mee te onderhandel nie

  • Stephan Joubert
  • Mar 31
  • 2 min read

“As U my help, sal ek dit of dat vir U doen …” Baie van ons het al sulke beloftes aan die Here gemaak. Die feit is, ons hoef nie. God het niks van ons nodig nie. Alles wat Hy vir ons doen, doen Hy verniet en onverdiend. Paulus skryf in Efesiërs 2 God is ryk in jammerhartigheid. Daarom onderstreep elke gebedsverhoring en elke deurbraak in ons lewe heel eerste Sy goedheid. God doen goeie dinge vir ons, omdat Hy graag wil en nie net omdat ons opreg gebid het nie. Of omdat ons beloftes aan Hom maak nie. Selfs ook wanneer ons nie so dapper glo of bid nie, is die Here steeds genadig.


Ons kan nooit met God onderhandel nie. Ons kan nie die Here probeer oorreed om ons te help deur allerlei plegtige beloftes nie. In die Ou Testament het mense dit soms gedoen. Ons leef egter nou aan die anderkant van die kruis. Ons ken Matteus 5:33-37, waar Jesus vir ons leer dat die dae vir beloftes en sekere teenprestasies van ons kant af voor God verby is. Ons doen nie wat die godsdienstige leiers in Matteus 23:16-22 gedoen het deur verskillende vlakke van waarheid te hê, wanneer hulle beloftes gemaak het nie. Soms het hulle by die tempel gesweer. Ander kere, as hulle groter geloftes wou maak, dan het hulle gesweer by die altaar, of by die tempel se goud, of voor die hemel. Jesus sê ons ja is goed genoeg vir God. Hy is die Here van genade. Hy het ons in Christus onvoorwaardelik lief. Hy is meer lojaal teenoor ons as wat ons ooit teenoor Hom kan wees. Die Here sal ons help, al het ons niks in ruil om vir Hom aan te bied nie. ’n Opregte dankie aan die Here en ’n lewe wat Hom opreg dien, is oorgenoeg.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page