top of page

Die skaarsste item in 2021 is…

Stephan Joubert

Stephan Joubert skryf in hierdie Goeie Nuus oor wat die skaarsste item in 2021 is…
Die skaarsste item in 2021 is…

Een Amerikaanse studie, waarop ek onlangs my hand gelê het, bevind mediese kennis het in 1950 elke vyftig jaar verdubbel. In 1980 het dit versnel na elke tien jaar. Teen 2010 het dit drie en ’n halwe jaar geneem vir mediese kennis om te verdubbel, maar nou sal dit blykbaar elke 73 dae gebeur. Die spoed van kennisvermeerdering op alle terreine van die lewe is verbysterend. Ongelukkig groei wysheid nie ewe vinnig nie. Inteendeel. Ons weet meer en meer van alles, maar ons weet al hoe minder van reg leef en van reg doen. Goor dinge soos selfsug, narsissisme en haat oorspoel die wêreld. Wysheid is weg. Of dalk nie. Dit is steeds te vind aan die Here se voete vir daardie klein groepie mense, wat wysheid najaag met alles in hulleself.

Wysheid is geloof, wat uitmond in ’n lewe van nederigheid, insig en onderskeiding voor God en tussen mense. Dit vra om ’n tweede bekering, ’n daaglikse een. Wysheid is ’n lewenslange skattejag in die skatkamers van die Allerhoogste, soos wat Spreuke 3 ons leer. Wysheid is om voortdurend te onderskei tussen reg en verkeerd. Dit is om die regte woord op die regte tyd te sê. Dit is om respek te hê vir alle mense. Wysheid, wat gegrond is in die Here, is gelyk aan die morele wil om in woord en daad reg te leef. Wysheid is om te volhard op die Here se pad, al is jy die enigste een in die buurt wat dit doen. Sulke wysheid is skaars. Trouens, dit is die skaarsste item in 2021. Maak dit jou eie!

Comments


bottom of page