Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. - 1 Petrus 3:9 AFR 83
Hierdie bly iets wat só teen die grein van menswees gaan. Wanneer ek deur iemand te na gekom word, begin ek so maklik dink hoe ek daardie persoon óf kan terugkry óf ten minste ‘n behoorlike skrobbering kan gee.
Ek moes self hierdie les leer, toe ons huwelik dekades gelede deur ‘n krisis gegaan het. Wanneer ‘n mens so seer is, is die versoeking groot om óf onder die bed te gaan wegkruip óf ‘n vreeslike bakleiery aan die gang te sit. Maar, om die Here se teenwoordigheid IN die situasie te beleef, maak dit beslis makliker om te vergewe en uiteindelik weer in ‘n heel verhouding te kan staan.
Telkens wanneer ek in gedagte gehou het dat Brink na die beeld van God geskape is, dat hy kosbaar is vir God, kon ek versigtiger wees met my woorde. God is mos besig is om my (en vir hom, wat my seergemaak het) te vorm om die mens te wees wat Hy in gedagte het. Daarom moet ek ons gesprek / konfrontasie eerder as ‘n bouperseel sien, waar my woorde boumateriaal is. En waar die eindresultaat kan wees dat beide van ons opgebou is.
As ek vandag terugkyk, besef ek wat die impak van hierdie stap-saam-met-Jesus was, nie net op my eie en my man se lewens nie, maar ook op ons kinders en kleinkinders én op talle ander, wat as gevolg hiervan hoop vir ‘n stukkende huwelik kon kry.
Uit eie ondervinding en ook na aanleiding van dié van ander, is dit die besef van God se liefdevolle teenwoordigheid ook in die pynlike ervaring, wat my in staat stel om te vergewe en op die regte tyd die kwaad met ‘n seënwens te beantwoord. Die wonder daarvan is dat Hy dit op ‘n manier ten goede kan gebruik. Hy laat soms wel die seer toe, maar soos in Josef se geval kan Hy dit jare later in groot seën vir my en vir baie ander verander.
You intended to harm me, but God intended it for good to accomplish what is now being done, the saving of many lives. – Genesis 50:20
Comments