
Terwyl ek versigtig is om te veel waarde aan drome te heg, het ek hierdie keer gewéét dat dit die droom van die Meesterbakker ‘n boodskap was wat ek moes aflewer.
In my droom was ek en Brink by ‘n Christelike byeenkoms. Teen die einde daarvan was hy besig om met een van die manne te gesels. Ek het verby hulle gekyk en gesien hoedat dié se vrou eenkant staan met trane in haar oë. In my droom het ek oorgestap na haar toe, vir haar ‘n lang drukkie gegee en vir haar van ‘n resep begin vertel – ‘n sjokoladekoek wat ‘n familiegunsteling van ons is.
Een van ons familie-gunstelinge is die Farmers Chocolate Cake. Slegs een van die bestanddele smaak lekker: die suiker. Van die ander bestanddele is of smaakloos of nogal grillerig: bruismeel, sout, sonneblomolie, eiergele, eierwitte. Die bestanddele wat hierdie koek máák, is die kakao en vanielje – albei te bitter om op hul eie te geniet. Dan moet hierdie bestanddele op die regte manier, in die regte volgorde gemeng word, in die voorbereide koekpan geskep word en in die voorafverhitte oond gesit word – teen die regte temperatuur, vir die regte lengte van tyd. Sou die oondtemperatuur foutief wees OF jy dalk die oonddeur te gou oopmaak, gaan jy beslis ‘n floppie hê.
So werk ons Meesterbakker in ons lewe: Hy voorverhit die oond, berei die panne voor en sit die regte “bestanddele” bymekaar. Dalk is daar ‘n hele paar hiervan wat glad nie lekker of aangenaam is nie, wat regtig aaklig is, en wat ons laat dink dat die Meester van ons vergeet het. Nee, Hy is besig om die bestanddele meesterlik te kies en te meng en Hy sit ons versigtig in die ongemaklike hitte van daardie oond van swaarkry. Dis egter nie lank voordat ons begin kla nie: “Here, dis te erg! Haal my asseblief hier uit!” Maar Hy weet dat, as Hy die deur sou oopmaak, gaan hierdie koek toeslaan en waardeloos wees. Hy weet om dit in die warm oond te laat terwyl Hy dit deur die glasdeur dophou – so lank as wat Hy weet dit nodig is. Slegs dan maak Hy die oonddeur oop, druk saggies op die koek om te sien of dit terugbons, haal dit uit die oond en sien dat dit weggetrek het van die pan se kante en … laat dit vir ‘n tydjie so in die warm pan op die afkoelrak staan. Dan eers keer Hy dit versigtig uit die pan, draai dit versigtig om en sit dit weer op die afkoelrak neer: ‘n pragtige koek, waardig om ‘n prys op enige skou te wen, selfs sonder versiersel!
Terwyl ons so in die oond is, mag die lieflike geur van ons vertroue in Hom, sommer die hele huis vul.
Comentários