top of page

Die Here lei die regverdiges

  • Marietjie Joubert
  • Aug 19
  • 3 min read

Ons hou mense dop, veral dié wat goed doen in die lewe. Die samelewing en media het ‘n manier om bekendes gereeld in die media uit te lig. Ons word daagliks deur sosiale media herinner aan wat hulle doen, waar hulle bly of vakansie hou. Hulle lewenstyl word baie keer gelykgestel aan die hoeveelheid geld wat hulle verdien. As onderwyseres by ‘n plaaslike hoërskool het ek so baie by die leerders gehoor dat hulle baie geld wil verdien en bekendes se lewenstyl wil navolg. Hulle wou nie hoor dat geld ‘n mens nie gelukkig maak nie.


In vers 1 van Psalm 1 lees ‘n mens “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie.” Die wysheid van die eerste 6 woorde slaan jou sommer teen die bors. Dit gaan goed met die mens … Elke keer as ek in die media lees van persone wat alweer deur ‘n finansiële skema of skelmsteek ingedoen is, bloei my hart vir hulle, want goddelose mense gee nie om vir hulle medemens nie. Hierdie persone melk onskuldiges vir hulle laaste pensioengeldjies en smeer heuning om die mond met Bybelversies. Hulle maak of hulle die Here ken, maar is gewentenloos in hulle optrede teenoor onskuldige mense.


Die Psalmskrywer noem ook dat ‘n mens nie met sondaars moet omgaan nie.  My ma het ons altyd gewaarsku teen verkeerde vriende.” My kind, ons is nie beter as hulle nie, maar hulle is nie soos ons nie - wees versigtig,” het sy baie keer gesê. Dit was altyd vir my moeilik om dit te verstaan, want dit was baie keer die lekker mense, die mense met baie vriende of die mense met baie geld. Later het ek geleer dat die vriende net so lank gehou het as wat die geld gehou het en dat jou vriendskap net waarde gehad het, as jy met hulle saamgestem het.


‘n Mens kan amper vers 1 uitvee na die sesde woord en dit direk aan vers 2 las. Dit gaan goed met die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind en dit dag en nag oordink. Dit is die wysheid wat jou lewe moet rig. Vergeet van die vriende wat alles met ‘n grap, ligsinnig probeer reg toor, wie se geld vir hulle belangrik is en wat in die skadukante van die samelewing lewe.


Wat beteken dit om die woord dag en nag te oordink? Presies wat dit sê! Lees die Here se woord en dink soveel as moontlik daaroor. Begin die dag met gebed en sluit daarmee af. Lees die Bybel en dink na daaroor. Praat met die Here elke oomblik wat jy kan. Meer nog, gesels met vriende oor die Here. Soek na vriende wat lewe volgens dieselfde waardes as jy! Die Here moet by jou etenstafel en gesprekke welkom wees. Los ‘n stoel oop om die teenwoordigheid van die Here te vier.


Nog ‘n riglyn kan wees om aantekeninge te maak van die preke waarna jy luister om later in die week weer daardeur te lees. Vul jou gedagtes met die woord van die Here, praat met Hom daaroor en laat die Gees jou lei. Bid vir jou daaglikse lewe, vriendskappe en lewe saam met jou gesin. Hierdie leefstyl sal aan jou oneindige vreugde en vrede gee, want dit is hoe ‘n regverdige van die Here lewe.

Comments


bottom of page