top of page

Die Bybel het nie kant en klaar uit die hemel geval nie

  • Stephan Joubert
  • 14 minutes ago
  • 2 min read

Sommige mense geniet dit om teenstrydighede in die Bybel uit te snuffel. Hulle vergeet egter dat die Ou Testament oor duisende jare heen ontstaan het. Herinterpretasies van dieselfde gebeure is dus nie vreemd in die nie Ou Testament nie. Dink maar aan een bekende voorbeeld: 1 Kronieke 21:1 vertel vir ons dat Satan vir Dawid aanhits om die volk Israel se getalle te tel, terwyl 2 Samuel 24:1 weer vertel dat God Dawid beweeg het om dit te doen. 


Verskillende krisisse, soos die vernietiging van Jerusalem rondom 586 voor Christus, asook die Babiloniese ballingskap, het ’n groot effek op eiesoortige aksente in verskillende Bybelboeke uitgeoefen. Nogtans is die boodskap regdeur die Ou Testament altyd dieselfde. God is die enigste Here. Hy is altyd die soewereine Skepper wat Hom in genade oor Sy mense ontferm. 


In die Nuwe Testament is daar baie minder aksentverskille, omdat dit binne sowat 50 jaar op skrif gestel is. Christus is hier die sentrum. Trouens, Hy is die saambindende hartklop van God se ganse Woord. 


Die Bybel het nie persklaar uit die hemel geval nie. God het gewone mense gebruik om dit neer te skryf. Dit beteken egter nie dat ons aan menslike spekulasies in die Bybel uitgelewer is nie. Die Bybelse reddingsboodskap is God-geïnspireerd en Gees-deurdrenk. Hoor net hoe beskryf Paulus dit in 2 Timoteus 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en deur Sy Gees aangeraak. Dit help ons om om die regte onderrig te gee. En om verkeerde dinge aan te spreek. En om sondige gedrag reg te stel. En om ons te leer hoe om reg te leef voor God. So word elke kind van God op die regte manier voorberei. So word elkeen heeltemal toegerus vir elke goeie daad wat vir god gedoen moet word.” (NNT).

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page