top of page

Dankie en asseblief wen in ons gebede

  • Stephan Joubert
  • Jul 13
  • 1 min read

’n Klein stroompie bekommernis wat vrye toegang tot jou hart het, kerf spoedig ’n diep groef in jou lewe oop. Dan dreineer al jou gedagtes en emosies uiteindelik hierin. Anders gesê: bekommernis is dodelik en gulsig. Dit neem jou ganse lewe stap vir stap oor. Paulus weet dit. Daarom skryf hy in Filippense 4:6 dat ons nie bekommerd moet wees oor enigiets nie. Hy sê: “Bid altyd en oral. Smeek God en dank Hom. Doen dit terwyl julle alles wat julle nodig het, bekendmaak aan Hom.”


Met dieselfde kop en hart waarmee ons oor enigiets bekommer, moet ons ook leer om oor alles te bid. Gewoonlik doen ons net mooi andersom. Ons bid oor niks en ons bekommer oor alles. Dit is verkeerd. Hoor weer: dis andersom! Die oplossing vir enige lewe wat gedurig op kommer ingestel is, is ’n lewe wat gedurig op gebed gefokus is. 

Gebede wat “altyd en oral” gebeur, word gekenmerk deur smeking en danksegging. In sulke gebede maak ons ons daaglikse behoeftes aan God bekend. Ons plaas dit alles by Sy voete neer en vertrou Hom daarmee. 


Terwyl ons smeekgebede ons afhanklikheid van God verwoord, vertel ons dankgebede weer dat alles in ons lewe genade is. Ons danksegging is ons daaglikse erkenning dat God goed en vol ontferming is. Ons sê elke dag vir Hom dankie. Ook vra ons elke dag vir God om ons te help. So neem kommer die wyk.  Ons opregte dankies en ons assebliefs voor God bevry ons van kommer.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page