top of page

Dankbaarheid is nie 'n dreigement nie

  • Stephan Joubert
  • May 26
  • 1 min read

Die Guinness Book of Records hou boek van wêreldrekords op alle moontlike terreine van die lewe. Een rekord, wat hulle egter nog nie opgeteken het nie, is hoe lank die volgende woorde aangehaal word sonder dat mense dit ooit prakties toepas: “Ons moet meer dankbaar wees vir al ons seëninge.” Sulke woorde word tydig en ontydig kwytgeraak. Dit word ook om elke hoek en draai beaam, maar dit word die heel minste gedoen. 


Hoor hier, dankbaarheid is nie ’n dreigement nie. Ons is dankbaar, of ons is nie – dis so eenvoudig én so ingewikkeld soos dit! Dankbaarheid raak ons hart eerste. Dankbaarheid spruit voort uit die wete dat God ons in liefde raakgesien het. Dankbaarheid is om te weet Hy hou regtig baie van ons. Hy hou al die pad van ons. Ons is geseëndes in God se oë. Ons is geliefdes van die Here. Dankbaarheid is egter ook doelbewuste keuses hier aan ons kant van die draad. Ons kies keer op keer om ons eie lewe in verwondering voor God te leef. Ons kies om die lewe as ‘n daaglikse geskenk uit Sy goeie hand te ontvang. Ons is nie lewende dreigemente, wat gedurig vir almal en vir onsself dreig dat ons dankbaar moet wees en dat ons al ons seëninge moet tel nie. Ons weier om nogmaals te kwalifiseer vir hierdie goor rekord. Sommer van vroegdag af tel ons elke dag ons hemelse seëninge. Dan is daar geen tyd oor vir dreigemente nie. Ons leef dankbaar voor die Here… want ons is!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page