top of page

Bid en meld aan as die antwoord

  • Stephan Joubert
  • 4 days ago
  • 1 min read

Dis niks lekker om ‘n vliegtuig te verpas nie. Jy sal weet as dit jou al iewers oorgekom het. Iemand vertel my van ‘n vriendin van haar wat ’n vlug misgeloop het op ‘n oorsese lughawe. ‘n Onbekende passasier daar op die lughawe vra toe vir haar wat sy nou gaan doen. Sy antwoord hom dat sy besig is om daaroor te bid. Toe antwoord hierdie onbekende persoon: “I think God is very busy at the moment. Let me help you.”

God se antwoorde op gebed kom in baie gestaltes en formate. Hy gebruik selfs mense, wat dink Hy is te besig om hulle sommer daar en dan in Sy diens te neem! God se hulp sluit regte hande en voete ook in. Dit herinner my aan die woorde van William Temple wat een keer gesê het: “When I pray, coincidences happen, and when I don't, they don’t.” Waar né!


Goddelike toevallighede neem met rasse skrede toe wanneer jy begin bid. Nadat jy amen gesê het loop jy gereeld in die hemel vas in die vorm van mense wat naderstaan om te help en om te gee. Wees asseblief ook so iemand wat regstaan om die antwoord op enige opregte gebed te wees. Wees een van die Here se goeie Samaritane, een wat voltyds aan diens is. Wees een van sy 911-hulplyne wat aanmeld vir diens as die Here op jou knoppie druk. Laat toe dat Hy jou aanraak om mense se behoeftes en nood raak te sien en om iets daaraan te doen. Laat toe dat God jou gebruik as een van Sy hemelse antwoorde op ander mense se gebede.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page