As jy in 2026 deur beproewing gaan
- Liezel Lüneburg
- 1 day ago
- 2 min read
Daar is twee dinge, waarvan ons in die nuwe jaar seker kan wees.
Aan die een kant kan elkeen op die een of ander vlak gemeenskap, vriendskap, liefde, genade, aanvaarding, voorspoed en ander goeie en mooi dinge te wagte wees. Wat 'n wonderlike vooruitsig!
Ongelukkig is die lewe nie net maanskyn en rose nie en dit is naïef om te dink dat daar geen swarigheid voorlê nie.
Almal moet deur diep, ontstuimige riviere worstel en dit is nie so maklik om kop bo water te hou nie. Dit herinner aan Stevie Smith se gedig Not waving but drowning. "Nobody heard him, the dead man, / But still he lay moaning: / I was much further out than you thought / And not waving but drowning."
Almal moet deur vuur gaan. Ons moet beproewinge konfronteer, terwyl elke skroeiende vlam ons lewens van illusies stroop en rou, pynlike waarhede ontbloot.
Nee, ek is nie 'n pessimis nie!
Dit staan in Jesaja 43, een van die mooiste hoofstukke in die Bybel, geskryf: "As jy deur water moet gaan … as jy deur vuur moet gaan."
Dikwels val ons vas in die rivier en vuur. Hoe langer ons benoud poog om nie te verdrink of te verbrand nie, hoe meer raak die water en vlamme ons enigste fokus.
Onthou tog om Jesaja 43 oor en oor te lees, as jy in die jaar, wat kom, deur diep waters of skroeiende vlamme moet worstel.
Die gedeelte belowe nie dat daar geen swarigheid in jou toekoms lê nie, maar beskryf 'n Here wat jou by die naam noem, wat reg langs jou loop, as jy deur krisisse gaan. Dit belowe dat God jou van elke liewe skaduwee, wat vrees oor jou gooi, sal vrymaak. Hy alleen is die Redder, wat stukkende harte optel en 'n pad van hoop voor jou uitlê.
Moet nooit ooit die wonderlike belofte in vers 18 vergeet nie. Eugene H Peterson skryf dit so verskriklik mooi in The Message:
“This is what GOD says,
The God who builds a road right through the ocean,
who carves a path through pounding waves,
The God who summons horses and chariots and armies
… Forget about what's happened;
don’t keep going over old history.
Be alert, be present. I'm about to do something brand new.
It's bursting out! Don’t you see it?
There it is! I'm making a road through the desert,
rivers in the badlands.”




Comments