top of page

Gehoorsaamheid in Teleurstelling

deur Ivor Swartz

As ons eerlik is met onsself, weet ons meeste van die tyd nie waarmee God besig is in ons lewens nie. Of, vir party mense is die stelling eerder dat hulle nie weet of Hy enigsins besig is in hul lewens nie. Wat ons wel weet is dat Hy iets voor ons gesit het vir hier en nou! Iets wat ons aandag, energie, fokus, tyd, en opoffering nodig het- ‘n werk, ‘n roeping, ‘n pad waarby ons nóú ingeskakel is, en dít is die belangrikste ding wat ons moet weet. Môre se onbekendheid, of gister se verwyt kan niks bydra tot dit wat vandag voor ons lê nie.

En, net omdat ek nie weet waarmee God besig is nie, beteken nie ek moet die werk los wat Hy nou voor my gesit het nie, of ‘n ander koers inslaan omdat die pad vorentoe donker en onbekend lyk nie. As elke ontdekkingsreisiger of baanbreker entrepreneur moes handdoek ingooi omdat die pad vorentoe donker en onbekend gelyk het, sou ons wêreld maar ‘n vervelige plek gewees het. Ons leer juis uit die Psalms, daar in 119:105 dat dit God se Woord is wat vir ons ‘n lamp vir ons voete, en ‘n lig vir ons pad is- net genoeg om dit wat nou voor ons is met geloof en ywer aan te pak.

Maar wat doen ons as die pad voor ons lyk of dit op mislukking en teleurstelling gaan eindig? Wat as dit alreeds het? Hoe behou ek my geloof en ywer in dit wat God aan my toevertrou het terwyl ek toekyk hoe ‘n droom, ‘n wens, ‘n jarelange hartsbegeerte aan skerwe lê? Te veel van ons probeer ons teleurstelling masker met “God is in beheer” of “God het ‘n beter plan”. Maar, myns insiens, partykeer is die teleurstelling die beter plan. Partykeer is dit hoe God wys Hy is “in beheer”. Want, wat Hy van my en jou vra is gehoorsaamheid- met of sonder ‘n beter plan.

Ek het onlangs die ontstellende nuus ontvang, dat my aansoek vir kwytskelding van my kriminele rekord wéér afgekeer is. Die vierde aansoek wat onsuksesvol terugkeer. Iets waarvoor ek die Here dan so diep vertrou het. Hoe kan God dit aan my doen, is ons vraag altyd. Alles in my wou God voor die bors gryp en skree: “Waarmee is jy besig? Watse joke speel jy met my vryheid? Kan jy my reguit sê waar ons twee staan sodat ek nie heeltyd in teleurstelling se koue kantoor hoef te sit nie”. Dit het vir ‘n oomblik gevoel of God my beroof het van iets wat Hy my skuld!

Ek dink ons almal was al daar in teleurstelling se koue kantoor. Daar waar jy voel jy verdien dat dinge na jou kant toe moet swaai. Jy’t dan gebid. Jy’t dan God vertrou. Jy’t Hom herinner aan Sy beloftes uit Sy woord. Maar in die regte lewe werk dinge nie so nie. Soos Philip Yancey, in sy boek, “Disappointment With God” sê, “No one is exempt from tragedy and disappointment. God Himself was not exempt. Jesus offerend no immunity, no way out of the unfairness, but rather a way through it to the other side”.

Baie mense dink dat teleurstelling hulle nie sal tref nie.

Hulle is kinders van God.

Hy gee Sy kinders die begeertes van hul hart.

Hy laat alles ten goede saamwerk vir die wat Hom liefhet.

Maar ‘n God wat altyd alles in jou guns laat swaai nét wanneer jy vra, is ‘n God wat aan jóú gehoorsaam is, en nie gehoorsaamheid van jou verwag nie! Yancey sê ook in "Disappointment With God", “True faith does not so much attempt to manipulate God to do our will as it does to position us to do His will”. Ons maak ‘n groot fout as ons dink God moet gehoorsaam wees aan ons elke gebed of wens, asof Hy ons persoonlike vending machine is: insert prayer request, out comes exactly what you ordered.

In my selfhaat en teleurstelling moes ek myself afvra: “Dien jy God vir wat Hy in jou lewe kan fix- want, ‘n goeie life-coach kan ook help daarmee. Of, dien jy Hom vir wat Hy alreeds aan jou kom bewys het deur Jesus: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe”- Rom. 5:6.

Terwyl ek met my teleurstelling worstel, lees ek deur ‘n epos van ‘n gemeente wat my genooi het om praatjies met plaaswerkers in die omgewing te kom doen. Ek besef in daai oomblik hoe God kies om ons te gebruik selfs in ons teleurstelling, en selfs te spyte van ons teleurstellings. Hy gebruik ons omdat ons gehoorsaam is aan dit wat nou hier voor ons is. Voor my daai dag, was ‘n paar groepe plaaswerkers wat heel moontlik ook met teleurstelling sit; wat wonder of God hulle vergeet het, en of Hy nog aan hul kant is. En my werk- ten spyte van my vrae- is om God te vertrou vir ‘n woord vir hulle.

Dis vir die plaaswerkers- en vir elkeen wat sit met ‘n vorm van teleurstelling- wat ek sê: “Die Here is my Herder; ek kom niks kort nie”.

Selfs in my tye van teleurstelling.


bottom of page