
Esegiël was profeet vir die Israeliete wat as krygesgevangenes weggevoer is na Babilonië toe daar rondom die sewende eeu voor Christus. Wat ‘n donker tyd was dit nie vir hierdie arme groep mense en hulle profeet daar in ‘n vreemde land nie. Maar toe kom praat die Here een dag in ‘n kragtige visioen met Esegiël. Hy is deur die Gees na ‘n vallei vol doodsbene toe gevat. Daar gekom, het die Gees hom gevra of hulle ooit kan lewendig word. Boonop het Hy Esegiël beveel om vir die beendere te profeteer en vir hulle te sê om lewend te word.
Sjoe, skaars het Esegiël sy woorde uitgespreek of al die bene begin na mekaar toe skuifel. Later het vel hulle almal oordek. Toe het Esegiël, in opdrag van die Gees, die wind beveel om hulle vol nuwe lewe te waai. Net daar het dit gebeur! Israel het begin leef!
God is in staat tot die absoluut onmoontlike. Hy kan selfs die doodste dood laat lewendig word. Hy kan ‘n klomp verbleikte dooie bene met vel en spiere en hemelse asem oortrek. Ook vir jou en my en almal rondom ons kan Hy dit doen. Daarom dat ons opnuut na die Gees moet kyk hier vanuit Doodslaagte! En Hom moet smeek om ‘n nuwe hemelse wind!
Gebed
Waai, Skepper Gees, waai nuwe lewe in ons in. Amen