top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Ek hou nie op die oomblik so baie van U nie, maar...


Daar behoort ’n opskrif bokant Job 16 te wees wat lui: “Nie bedoel vir sensitiewe lesers nie.” Dit is ’n omgesukkelde hoofstuk. Job meen hier dat sy vriende ’n spul rugstekers is. Pleks dat hulle hom ondersteun in sy swaarkry, verf hulle hom vas in ’n hoek (16:20). Al hulle verklarings vir sy lyding is veroordelend en boonop nog verkeerd ook. Ook voel Job dat God in sy Opponent verander het (16:9). God is nou sy Teenstander.


Job hou skielik nie meer so baie van God nie. Hy het rustig geleef, maar toe krap God alles om. Toe verander hyself in God se teiken. Job voel dat God hom nou vol gate skiet met sy hemelse pyle. (16:11-14). Nogtans gebeur daar ’n merkwaardige ding in hierdie einste hoofstuk. Job kies om die bitterheid in sy eie hart oor God reguit na Hom toe te vat (16:19-20). Selfs al sukkel Job om sin van God te maak, gaan praat hy met God oor God. Job weier om van Hom af weg te loop. Met al sy eie seer en bitterheid vlug hy Godwaarts. Dit is Job se redding; dit is sy behoud. Leer dit asseblief by Job. Hou aan om met God te praat, wanneer jou geloof agter die doringdraad beland. God sal Hom laat vind. Hy los niemand alleen, wat aanhou klop aan Sy hemelse deur nie.

Comments


bottom of page