Die wêreld verander vandag
top of page

Die wêreld verander vandag


Mense dink hulle kan nie die wêreld verander nie, maar hulle kan! Jy en ek kan ook. Die wêreld is eintlik maar net daardie wêreld waarbinne ons almal elke dag leef. Daardie wêreld kan verander! Presies dit gebeur as jy vandag ’n beker koue water uitdeel aan iemand in daardie wêreld. Dan sien die Here jou raak, soos wat Jesus in Matteus 10 sê.


Die wêreld verander vandag as jy iemand in ’n koswinkel raaksien, wat hulle sente tel, voordat hulle ’n item van ’n rak afhaal en jy aanbied om dit vir hulle te koop.


Die wêreld verander vandag as jy daardie mense, wat in jou tuin of huis werk, bederf met ’n ekstra bord kos om saam te neem huis toe.


Die wêreld verander vandag as jy deur middel van ‘n SMS uitreik na mense in jou gemeente of gemeenskap om te sê dat jy vir hulle bid.


Die wêreld verander vandag as jy vergeet van jou eie behoeftes en net daar is vir ander. Dan verskuif die wêreld vir ’n paar mense in die regte Rigting. Dan reën dit seën hier in jou eie omgewing. Dan laat jy toe dat die Here se Gees ander mense se woestyne vandag met Sy lewende water oorstroom.

bottom of page