
Jesus se aankoms hier tussen ons was geen sagte landing nie. Met ’n voerbak as eerste bed en herders as eerste besoekers was dit van die begin af duidelik dat Jesus se sending anders sou verloop as wat mense van die Messias verwag het. Geen koninklikes uit Herodes se paleis het Hom kom besoek nie. Of enige hooggeplaaste Romeine nie. Aan’t reis tussen vreemdelinge, sondaars, heiliges en kie - so het Jesus sy aardse bestaan deurgebring. Hy het geleef tussen gewone mense en sondaars. Hy het dit gedoen omdat Hy gekies het om mense wat weggeraak het uit God se ewige huis in te loop met genade. Ook hier in 2020 doen Jesus steeds dieselfde. Sy genade-loop is nog nie afgehandel nie. Nou nog loop Hy ons keer op keer van agter af in met sy hemelse goedheid. En wanneer Jesus ons vind vier Hy fees saam met ons. Want Hy weet ons hoort vir altyd tuis aan God se feestafel. Daar het Hy vir ons elkeen plek gereserveer. Daarom hou Jesus aan met loop agter ons aan totdat Hy ons terugkry waar ons nog altyd tuishoort. Dit is presies waaroor sy aardse sending gaan. Daarom verwelkom ons Hom in hierdie dae opnuut as die Heer en Verlosser in ons lewens.
Comments