top of page

Hier is die moeilike antwoord

  • Stephan Joubert
  • 6 hours ago
  • 1 min read

Swaarkry is aan die orde van die dag in ons land. Dit wemel van armoede. Brandstofpryse het die hoogte ingeskiet. Kospryse raak buitensporig. Dag na dag hoor jy van mense wat hulle werk verloor, en van ander wat nie genoeg geld het om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien nie. Hoe gemaak wanneer sulke mense aan jou deur kom klop? Jy kan tog nie almal help nie, maar jy weet ook jy moet sommiges help. 


So, wie help jy? Ek wens daar was ‘n maklike antwoord op hierdie vraag. Daar is nie, maar daar is wel ’n moeilike antwoord. Hier is dit: help wanneer jy kan en help waar jy kan! 


Jy kan nie almal se laste dra nie, maar jy kan wel een of twee mense s’n op jou skouers tel. Nee wag, jy moet. Galasiërs 6:2 sê: “Laai mekaar se swaarkry en seerkry op julle skouers. So leef julle volgens die wet, wat Christus vir julle gegee het.” (NNT) Jy kan nie die wêreld verander nie, maar jy kan een of twee persone s’n deur ‘n gebed, ‘n bord kos, ‘n besoek, of ’n ander daad van ontferming verskuif. Jy kan nie vir almal in die wêreld bid nie, maar jy kan volhardend vir ‘n paar persone bid wat die Here op jou radarskerm geplaas het. Jy kan nie alle armes versorg nie, maar jy kan seker maak dat een of twee mense nie met leë hande van jou af wegstap nie. Doen dit getrou. Leef mededeelsaam. Leef vrygewig, soos wat die Here van jou vra. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page