• deur Stephan Joubert

Jeremia doen hardepad vir God


Dit was in die jaar 627 voor Christus, in die dertiende jaar van koning Josia van Juda se regering, dat die profeet Jeremia se lang profetiese loopbaan afgeskop het. Hy was afkomstig uit Anatot, sowat 7 kilometer noordoos van Jerusalem. Nog skaars droog agter die ore, het hy begin preek in ‘n tyd van politieke hoogspanning op die internasionale front. Skaars het die magtige Assiriese Ryk verkrummel wat die noordelike stamme van Israel in ballingskap weggevoer het, of die Egiptenare onder leiding van farao Nego II het hulle spiere gebult teen Juda. Asof dit nie erg genoeg was nie, het Nebukadnesar en die magtige Babiloniese leërs ook hulle stem orals dik gemaak.

Nuwe konings, nuwe probleme

Gedurende die eerste jare van Jeremia se prediking het koning Josia skouspelagtige godsdienstige hervormings in Juda van stapel gestuur. Dit was kort nadat die wetboek van die Here in 622 in die tempel ontdek is. Ongelukkig het hierdie tyd van geestelike voorspoed tot ‘n tragiese einde gekom as Josia by Megiddo sterf toe hy die Egiptenare probeer keer het wat op pad was om teen Assirië te baklei. Meteens het die godsdienstige klimaat in Juda dramaties verander toe Joahas, en ‘n rukkie daarna, Jojakim, koning geword het. Dit was veral Jojakim se lojaliteit aan Egipte; sy uitspattige bouwerke; sy losbandigheid (5:26-29) en sy wreedhede teenoor priesters wat getrou aan God gebly het (26:20-23), wat die mense van Juda van die Here af weggedryf het. Natuurlik kon Jeremia nie oor hierdie onregte stilbly nie (26:1-24). Maar dit het hom ‘n duur prys gekos. Selfs in Anatot, sy tuisdorp, was sy lewe later nie meer veilig nie (11:18-23).

Jerusalem val!

Intussen het die Babiloniërs daarin geslaag om Juda oor te neem. Jojagin wat skaars maar agtien jaar oud was toe hy koning geword het, is saam met sy familie na Babilon weggevoer. Hierna moes Jeremia en die mense van Juda beleef hoe Jerusalem op 15/16 Maart ’n eerste aanval beleef van die Babiloniese weermag. Die nuwe koning van Juda, Sedekia, het egter nie geleer uit die foute van sy voorgangers nie. Alhoewel Sedekia gereeld vir Jeremia laat haal het om na sy profesieë te luister (27:1-22), het hy nie veel beheer oor Juda gehad nie. Die een opstand na die ander het gedreig en vals profete het links en regs vertel dat die Babiloniërs se mag spoedig tot ‘n einde sou kom (28:2-4). Ten spyte van Jeremia se waarskuwings dat Juda nie sou slaag in ‘n oorlog teen Babilon nie en dat hulle sewentig jaar lank ballinge in Babilon sou wees (29:10), het Sedekia in 589 teen Babilon in opstand gekom. Wat ‘n fout! Jerusalem is in Januarie 588 beleër. Jeremia het by Sedekia aangedring om oor te gee (38:14-23). Maar alles tevergeefs. In Julie 587 het Juda se grootste nagmerrie waar geword toe Jerusalem deur die Babiloniërs binnegeval en heeltemal verwoes is (52:5). Uiteindelik is Sedekia en sy seuns doodgemaak en massas mense is as ballinge na Babilonië weggevoer. Die heilige stad was in puin en die volk was gevangenes in ‘n vreemde land.

Jeremia ly

Jeremia en ‘n klompie mense het na hierdie verskriklike katastrofe in Juda agtergebly. Tussen die ruïnes het die profeet van God voortgegaan met sy prediking. In daardie tyd is Gedalja as goewerneur van Juda aangestel. Ten spyte van Gedalja se pogings om vrede in die land te herstel (40:7-12), is hy vermoor. Uit vrees vir weerwraak deur die Babiloniërs het hierdie mense besluit om in Egipte te gaan wegkruip. Hulle het Jeremia teen sy wil gedwing om saam met hulle na Egipte toe te gaan waar hy die res van sy lewe deurgebring het (Jer 42).

Arme Jeremia. Vir meer as veertig jaar moes hy stry teen al die goddelooshede van Juda se konings en hulle onderdane. Hoeveel keer het hy nie gepreek teen vals profete, afgodery, sosiale ongeregtigheid en die skynheiligheid van die priesters nie. As gevolg hiervan is Jeremia is dikwels beledig en verag (15:10-21). Maar dit het hom nie gekeer om die mense te waarsku oor hulle opstandigheid teen die Here nie. Onverskrokke het hy aangekondig dat ‘n katastrofe op Juda wag as hulle hul nie bekeer nie. God is nie sommer vanself aan die mense se kant net omdat hulle in Jerusalem bly nie. Tussen al die skerpkante van Jeremia se preke deur het hy tog ook die spore van God se nuwe hoop-pad met sy mense raakgesien. Jeremia het geweet eendag sal God weer sy mense terugbring na hulle land toe en vir hulle ‘n God wees (Jer 30-31). Want Hy is ‘n goeie God wat die klagte en sugte van sy mense hoor. Elke slag. Vandag nog.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: