Wie is jou God?
top of page

Wie is jou God?


“Wie is jou God?” is nie ‘n vraag wat ‘n mens jouself normaalweg sal afvra, wanneer jy met ‘n groot stuk bekommernis of ‘n groot teleurstelling stoei nie.


Die lig het op ‘n dag vir my opgegaan, toe ek ervaar het dat die Here vir my vra: “Wie is jou God? Is dit Ek of is dit Brink?” Dit was toe ek in my hart geloop en mor het oor my pragtige gentleman-man net ‘n bietjie te onsimpatiek was met een of ander probleem wat ek gehad het. Vir dieselfde prys kan die vraag ook lui: “Wie is jou god? Is dit Ek (die Here) of is dit jou pa of jou skoonma of jou werkgewer of daardie buurman of politikus wat jou irriteer en die lewe vir jou moeilik maak?”


Ek moet besluit: “Gaan ek hierdie persoon (of situasie) verhef tot ‘n god in my lewe? Of gaan ek die Here van die heelal geleentheid gee om God van my lewe, die Here van my gedagtewêreld te wees?” Dis slegs dan wanneer ek dit gaan regkry om te vergewe, om waarlik my naaste lief te hê soos myself en selfs daardie moeilike konfrontasie rustig aan te pak.


Nou in pandemietyd gebeur dit so maklik dat ‘n “spook” of reuseprobleem my wakker hou. Dis wanneer ek my begin ontstel oor finansiële uitdagings, my familielid wat ernstig siek is, die onaangename konfrontasie wat voorlê. Dis waar ek weereens myself moet herinner wie my God is. Hy, wat met Sy magtige arm sterrestelsels uitgesprei het, wat sorg vir Jerusalem (Sy kerk), vir Moses (leiers wat Hy aangestel het), vir Dawid met sy 5 klippies (gewone mense soos ek).


Hierdie God het vir Jeremia getroos: “Jy kan rustig wees …” en “Jy sal sterk genoeg wees …” “Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die HERE, belowe dit!” As ek myself net weer herinner dat Hy my God is, het ek die voorreg om uiteindelik aan die slaap te raak met “vyf klippies” van vertroue en krag in my hand.


Wanneer Paulus in Filippense 4:6 sê: “Moet oor niks bekommerd wees nie …” herinner hy ons ook daaraan om ons gedagtes te sentreer om alles wat waar is, wat eerbaar, regverdig, rein, lieflik, loflik is – om dit te bedink, te beplan. As ek op die probleem (situasie of persoon) fokus, maak ek in effek daarvan my god – ‘n afgod. Daardie oorlog word eerstens in my gedagtes gevoer, waar ek elke warrelende ontsteltenis- en angsgedagte gevange moet neem en onder Jesus se gesag kom plaas – Hy is per slot van sake groter as enige probleem (situasie of persoon). Hy is my Here en my God.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page