Nuwejaarsvoorneme, 2022: Laat U Naam geheilig word
top of page

Nuwejaarsvoorneme, 2022: Laat U Naam geheilig word


“New Year’s Day: Now is the accepted time to make your regular annual good resolutions. Next week you can begin paving hell with them as usual.” - Mark Twain.

’n Nuwejaarsvoorneme is ’n ellendige ding. Ek weet, want ek praat uit ondervinding. Jaar na jaar sien ek met afwagting uit na ’n nuwe jaar en uitdagings. Keer op keer besin ek oor die jaar wat verby is, oor foute en swak gewoontes en hoe ek my lewenskwaliteit en verhoudings gaan verbeter deur beter gewoontes aan te leer en minder foute te maak. Aan die einde van die volgende jaar is ek van voor af in myself teleurgesteld – die mislukkings, foute en slegte gewoontes het maar weer kop uitgesteek terwyl die jaar gevorder het.


Is dit dalk tyd om ’n impasse te verklaar en moed op te gee?


Ek dink nie dit is moontlik nie. Nuwejaarsvoornemens is deel van wie ons is en dit is natuurlik nie noodwendig ’n slegte ding nie. ’n Mens moet tog aspirasies hê om jou lewe deurlopend te verbeter – God en ons liefde vir Hom vereis dit. Waarom is dit dan so moeilik? Dalk stel ek te hoë eise aan myself of die voornemens is te algemeen. Is ek moontlik te swak of lui om die aanpassings in my lewe te maak? Of pak ek keer op keer die skuld op eksterne faktore buite my beheer? Laat ek ander mense en omstandighede te maklik toe om my optrede en lewenswyse te dikteer?


Daar kan ook ’n ander rede wees: Natuurlik formuleer ek my voornemens jaar na jaar met God en sy wil in gedagte, maar miskien speel Hy, sonder dat ek dit so bedoel of besef, ’n mindere rol in die nakoming daarvan. Hierdie rede is pynlik om te oorweeg, want ek wil tog graag kan sê dat ek Hom deurlopend toelaat om ’n positiewe impak op my lewe te maak. Ongelukkig is dit ook die mees logiese rede vir die impasse…


Na selfondersoek en besinning het ek op ’n andersoortige nuwejaarsvoorneme besluit: “Laat u Naam geheilig word.”


Met elke besluit wat ek moet neem en keuse wat ek maak: “Laat u Naam geheilig word.” As ek sondige gedagtes het en voordat ek praat: “Laat u Naam geheilig word.” Wanneer ek kwaad en omgekrap raak oor wie ookal watter onreg teenoor my gepleeg het: “Laat u Naam geheilig word.” As ek bid: “Laat u Naam geheilig word.” As ek moedeloos is en nie weet watter kant toe nie: “Laat u Naam geheilig word.” As ek teleurstelling of krisisse moet oorkom: “Laat u Naam geheilig word.”


“Here God, die Lig in my lewe, laat u Naam geheilig word.”

bottom of page