Alles in 'n naam
top of page

Alles in 'n naam


Gister ontmoet ek toe mos vir Khanyisa. Sy het ons bestelling vir ons ontbyt kom neem. Ons is besig met allerhande feesvierings. Ek voel altyd so in my skik as ek die betekenis van iemand se naam kan herken, want dit is gewoonlik lekker om dan daaroor te gesels.


“You are the one who brings light wherever you go,” glimlag ek. Ja, sowaar, daar doen haar gesig presies dit. Dit is eers haar oë wat onmiddellik begin glinster. Dan breek haar mond trots oop en haar tande glinster saam. In een gladde beweging sprei Khanyisa haar tien vingers oop, terwyl dit lyk asof sy die mense in die vertrek wil begin dirigeer.


“Yes,” lag sy, “I am like lightning. All of a sudden there is bright light, everywhere, when I enter the room.” Ons lag.


My gedagtes spring van Khanyisa af na iemand anders, wat ek geken het, met ʼn ander naam. Johan Useless. Dit was die gebruiksnaam wat sy pa hom kleintyd gegee het. “Want jy is net ‘useless’, man,” was die verduideliking daaragter. Johan Useless het dit geglo. Sy nuwe naam het hom sy lewe lank agtervolg en soms vooruitgegaan.


Ons almal kry allerhande name, etikette en beskrywingswoorde wat die samelewing aan ons toedig. Soms word dit deel van ons identiteit. Ander kere wend ons pogings aan om presies die teenoorgestelde te wees, want dit is nie vir ander mense om te besluit wat en wie ons is nie.


Miskien het mense ook al vir jou dinge gesê, toegesnou of jou selfs mee geprys en jy het dit ter harte geneem – dit het jou lewenstorie geword. Dikwels spruit Nuwejaarsvoornemens juis uit ons behoefte om ʼn nuwe lewenstorie geskryf te kry. Soms is twee of drie dinge wat ons graag in die volgende jaar wil bereik, sprankies van hoop wat aan ons sal bewys dat ons tog kan verbeter, groei of losbreek.


Jesus se geboorte herdefinieer alles.


In Januarie, kort na Kersfees, dink ons nog aan die gevolge daarvan wanneer God Homself aan ons toon. Soos die wyses uit die Ooste, wat goud, wierook en mirre na die Koning van konings gebring het. Jesus se geboorte wys dat jy ʼn nuwe identiteit gekry het. Jy het ʼn nuwe naam gekry. God het met Jesus se geboorte kom sê dat Hy kies om Homself met jou te vereenselwig. Hy het die eerste en die laaste sê oor wie jy is.


Dit is sulke wonderlike nuus, dat die profeet Jesaja reeds lank voor Jesus se geboorte iets daarvan gesnap het. Jesaja 62:1-5 praat oor Jerusalem, wat aan flarde was, wat ʼn nuwe identiteit sou kry:

· Lig sal deurbreek;

· Almal sal sien Jerusalem is gered;

· Jerusalem kry ʼn nuwe naam: Geliefde van die Heer;

· En nog ʼn nuwe naam: “God sʼn!”;

· En ʼn mooi vergelyking: Pragtige versiering in God se hand.


Ons is vroeg in 2022. Tog is hierdie woorde van Jesaja oor die stad Jerusalem ook vandag waar vir ons, God se kinders. Al is Kersfees nou verby en maak ons reg vir die ratte van ʼn volgende jaar, het Jesus se koms jou identiteit verander. Kersfees is verby. Jesus nie.


Miskien kan jy raaksien wat God oor jou te sê het, eerder as om te fokus op die name wat ander mense, of jyself, vir jou gegee het?

bottom of page